Die VF Plus het ‘n strafregtelike klag teen die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit (Kroonstad, Viljoenskroon, Steynsrus en Vierfontein) se munisipale bestuurder, mnr. Simon Mqwathi, aanhangig gemaak. Mqwathi en die munisipaliteit onder sy bestuur moet aanspreeklik gehou word vir die skending van die inwoners van Kroonstad se grondwetlike reg tot ‘n veilige omgewing weens riool wat al maande lank in strate in Kroonstad loop, het Jeanie Hattingh, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit gesê.
Die klag is by die polisiestasie op Kroonstad aanhangig gemaak ten opsigte van die munisipaliteit se oortreding van die Nasionale Waterwet, die Nasionale Omgewingsbestuurswet en bowenal artikel 24 van die Grondwet wat bepaal dat elke mens die reg tot ‘n omgewing het wat nie skadelik tot sy welsyn of gesondheid is nie.
“Riool loop al maande lank in Impalastraat af en ‘n stroom riool vloei vanaf Wilsonstraat tot by die stormwatersloot voor die munisipaliteit se ingang.
“Ek het hierdie plekke al persoonlik vir munisipale amptenare gaan wys, maar daar het dadels van gekom. Ons sal hulle nou dwing om hul wetlike pligte na te kom, al moet hulle deur die letter van die wet vervolg word,” het sy gesê.
Kontakbesonderhede: 083 406 8714 / 082 674 6670