fbpx
Vryheidsfront Plus

Openbare Beskermer gaan vorige ANC-stadsraad van Johannesburg se skenking van Mandela-standbeeld aan Ramallah in Palestina ondersoek

Die Openbare Beskermer (OB) het op versoek van die VF Plus besluit om ongerymdhede te ondersoek rondom die Nelson Mandela-standbeeld van meer as R6 miljoen wat die Johannesburgse stadsraad verlede jaar aan die Palestynse stad Ramallah geskenk het, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus en partyleier in Gauteng.

Dit volg nadat die VF Plus die OB tien maande gelede, aan die begin van Mei verlede jaar, gevra het om die moontlikheid van tenderbedrog met die skenking te ondersoek.

Die OB is in besonder gevra om ondersoek in te stel of Johannesburg sy eie tenderregulasies verbreek het met die aanstelling van Dali Tambo se maatskappy Koketso Growth om die projek te bestuur.

Die uitgawe is boonop aangegaan in ‘n tyd waarin die stadsraad geld moes leen om sy diensleweringskostes te dek.

Die spandabelrige vermorsing is verder gevoer deurdat ‘n afvaardiging van die stadsraad onder leiding van die burgemeester, Parks Tau, self na Ramallah gereis het om die bronsbeeld te onthul.

Die OB is daarom ook gevra om te ondersoek of daar wel toestemming was vir die afvaardiging om die reis te onderneem, hoeveel mense deel van die afvaardiging was en hoeveel dit die belastingbetaler gekos het.

Adv. Alberts sê dit is ‘n oorwinning vir skoon regering en vir die Joodse gemeenskap in Israel en Suid-Afrika aangesien die ANC met uitsprake en dié soort optrede oënskynlik duidelik kant kies vir die Palestyne in die komplekse kwessie tussen Israel en Palestina.

Hy sê dit sou jammer wees indien dit sou blyk dat die ANC op onreëlmatige wyse fondse beskikbaar gestel het om sodoende hul solidariteit met die Palestyne te bewys.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.