fbpx
Vryheidsfront Plus

Het Emfuleni-munisipaliteit die stryd verloor?

Vir hardwerkende politieke partye en raadslede het die nuwe jaar met sy talle uitdagings in die Emfuleni-munisipaliteit (ELM) sommer vinnig begin – veral vir die VF Plus. Dit is ongelukkig nie die geval met die regerende party nie, sê me. Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in die Emfuleni-munisipaliteit.

Tydens die jongste vergadering is die ANC-raad daarop gewys dat hulle nie belangrike verkiesingsbeloftes nagekom het nie en is daar nog nie eens met die onderskeie prosesse begin nie.

“‘n Belangrike ‘leë belofte’ aan die inwoners was die oordrag van eienaarskap van laekoste-behuisingseenhede waarna hulle ook sou kwalifiseer vir ‘n laer dienstarief.

“Groot druk word vanaf Eskom ervaar wat dreig om wanbetalende munisipaliteite aan beurtkrag te onderwerp asook Rand Water wat deesdae uiters ongeduldig bakhand staan en wag vir enorme uitstaande skuldbetalings.”

Emfuleni is een van die sondebokke en dit vererger die druk op die raad se daaglikse funksionering. Van groot beloftes oor infrastruktuur-opgradering en herstelwerk aan die elektrisiteitsnetwerk het daar ook niks gekom nie. Redan (Wyk 16, ELM) gaan steeds gebuk onder gereelde onbeplande kragonderbrekings. Redan-inwoners was byvoorbeeld Oukersaand en Kersdag sonder elektrisiteit. Inwoners is hewig ontsteld omdat hul meen sodra dit “lyk na reën of wind” gaan Redan se krag af.

Van die volgende redes is ‘n bewys dat Emfuleni alreeds die stryd om basiese dienste te kan lewer verloor het:

Die padnetwerk versleg by die dag – veral met betrekking tot slaggate.

Straatligte brand nie.

Rioolverspoelings is algemeen.

Strate het geen naamborde nie.

Verkeerstekens is nie meer ‘n prioriteit nie.

Padtekens is onvoldoende.

Dit blyk dat departemente eenvoudig apaties teenoor inwoners staan en die behoeftes van inwoners ignoreer.

Tans is verskeie korrupsie-ondersoeke in Emfuleni aan die gang wat die skorsing van amptenare kan beteken. Die VF Plus is verlig dat stappe geneem word, maar is bekommerd dat dienslewering agterweë kan bly. Inwoners gaan glad nie tevrede wees wanneer die raad eersdaags dienstegeld-verhogings instel nie, veral as hulle nie behoorlike dienslewering ontvang nie.

Rdl. Senekal het ‘n ernstige beroep op inwoners gedoen om te sorg dat hulle elektrisiteit- en watermeters korrek gelees word en dat hulle op goeie dienslewering moet aandring want hulle betaal immers met hul swaar verdiende geld daarvoor.

“Die munisipaliteit het ‘n plig teenoor sy inwoners. Die VF Plus doen ook ‘n dringende beroep op Emfuleni-munisipaliteit om te fokus op dit wat belangrik is. Vorder uitstaande skuld in en behandel die getroue betalers beter,” het Senekal bygevoeg.

 

Rdl. Gerda Senekal

emfuleni@vfplus.org.za

(016) 931-0925

076 616 2124

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.