fbpx
Vryheidsfront Plus

Oos-Kaapse provinsiale rede: Premier Mabuyane stel teleur

Die premier van die Oos-Kaap, Oscar Mabuyane, se provinsiale rede het nie aan verwagtinge voldoen nie en was niksseggend. Behalwe vir ontwikkeling van ‘n paar hawens by kusdorpies, die uitbreiding van die motorbedryf en die oprigting van 14 fabrieke in Oos-Londen, het die premier nie veel meer gesê as in sy vorige provinsiale rede nie.

Die premier het soos verlede jaar rondgeval van een geleentheid na ‘n ander in die hoop om werk te skep vir die jeug. Hy verlaat hom totaal en al op instansies soos die motorbedryf in die provinsie om werksgeleenthede te skep.

Mabuyane spog met die eerste VM Motorvervaardigers wat 100% swart ekonomies bemagtig (SEB) is. Met ‘n werkloosheidsyfer van 39.5% moet hy eerder daarop fokus om ‘n gunstige ekonomiese klimaat te skep om beleggings na die provinsie te lok en werksgeleenthede te skep vir alle inwoners ongeag die kleur van hul vel.

R630 miljoen is belê in die aanbou van nuwe streekskantore in Aliwal-Noord en Queenstown om gekoördineerde dienslewering te verseker. Die premier is naïef as hy glo dat nuwe kantore dienslewering en produktiwiteit sal verhoog.

Geen woord is gerep oor planne om die wanfunksionele munisipaliteite in die provinsie om te keer, dienslewering te verbeter en korrupsie hok te slaan nie. Dit is onrusbarend indien in ag geneem word dat die Makana-munisipale raad deur die hooggeregshof in Makhanda beveel is om te ontbind omdat hy nie eens basiese dienste aan Makhanda (Grahamstad) en omliggende dorpe kan lewer nie.

Die besluit van die provinsiale regering om aan die sewe konings in die provinsie ‘n jaarlikse toelaag toe te ken, is onaanvaarbaar. Die besluit volg na druk aangesien die Zoeloe-koning jaarliks ‘n toelaag van R70 miljoen ontvang. Die provinsie kon hierdie geld eerder toegeken het aan die departement van onderwys of gesondheid.

Daar is ook geen wilskrag aan die kant van die premier en die ANC-regering om die ongewilde besluit te neem om die provinsie se hoë salarisrekening wat ongeveer 62% van die begroting uitmaak, in te perk nie.

Kontaknommer: 082 822 3414

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.