Die VF Plus dring daarop aan dat sekere bepalings nagekom moet word met die oordrag van ses skoolpersele van die Tshwane-metroraad in Mamelodi aan die Gautengse provinsie.
Die terreine word reeds uitsluitlik vir onderwysdoeleindes gebruik en daarom is dit noodsaaklik dat die provinsie eienaarskap oor die grond moet neem.
Die VF Plus dring egter aan dat die volgende maatreëls behoorlik gevolg word:
• ʼn Behoorlike markwaardasie van die grond waarop eiendomsbelasting gehef word moet gedoen word.
• Die oordrag moet deur die raad goedgekeur word.
• ʼn Deursigtige proses moet gevolg word.
• Indien die grond ooit vir iets anders as onderwys gebruik word, moet dit aan die stad teruggegee word.
• Die ooreenkoms tussen stad en provinsie moet duidelik bepaal wie verantwoordelik is vir die instandhouding en infrastruktuur.
• Die finansiële impak van die oordrag moet volledig aan die publiek bekend gemaak word .
Sonder hierdie stappe kan die oordrag in stryd wees met die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) en toepaslike regulasies.
Die VF Plus het verder versoek dat die metro se bateregister reggestel word en daar ʼn duidelike uiteensetting is van die pligte en verantwoordelikhede tussen die metro en die provinsiale regering.
Hierdie oordrag kan verantwoordelikheid versterk en dienslewering verbeter, maar slegs indien belastingbetalers se belange beskerm word en die proses deursigtig, wettig en regverdig verloop.


