Die VF Plus doen ’n beroep op Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, om dringend die hooggeregshof te nader om die Knysna-munisipale raad se onwettige besluit om mnr. Boy Manqoba Ngubo se aanstelling as waarnemende munisipale bestuurder te verleng, te hersien en tersyde te stel.
Mnr. Ngubo is aanvanklik op 30 April 2026 as waarnemende munisipale bestuurder aangestel vir ’n tydperk van drie maande of tot die saak van die geskorste permanente munisipale bestuurder, mnr. Lulamile Mapholoba, afgehandel is.
Mapholoba is in Februarie 2026 geskors in verband met ’n sekuriteitstender.
Op 14 Julie 2026 het die Knysna-munisipale raad besluit om Ngubo se waarnemende aanstelling met ’n verdere drie maande te verleng en minister Bredell se instemming daarvoor versoek, soos ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels vereis word.
Minister Bredell het daarna verdere inligting van die munisipaliteit versoek, onder meer oor die status van strafregtelike verrigtinge waarby mnr. Ngubo betrokke is. Die minister het spesifiek verwys na Ngubo se vorige tydperk by die Bitou-munisipaliteit, waar hy geskors is en bedank het voordat dissiplinêre stappe afgehandel is. Hierdie saak is tans die onderwerp van ’n lopende ondersoek deur die Valke.
Ten spyte daarvan dat die munisipaliteit se eie regsadviseurs die raad ingelig het dat mnr. Ngubo se waarnemende aanstelling nie wettig verleng kan word sonder die vereiste instemming van minister Bredell nie, het ANC-raadslede, met die uitsondering van rdl. Aubrey Tsengwa, asook die EFF, PA en PBI, ten gunste van die verlenging gestem.
Hulle het
ook besluit dat die munisipaliteit enige daaropvolgende regsuitdaging teen die besluit moet verdedig.
Op 11 Augustus 2026 het minister Bredell die raad ’n geleentheid gebied om sy onwettige besluit reg te stel deur te eis dat die besluit teen 17:00 dieselfde dag herroep word, by gebreke waarvan regstappe ingestel sou word.
In stede daarvan om hierdie geleentheid te benut om die situasie reg te stel, het die raadslede wat vir die besluit verantwoordelik was, verkies om uitdagend voort te gaan.
Die VF Plus doen daarom ’n beroep op minister Bredell om sonder enige verdere vertraging die nodige regstappe in die hooggeregshof in te stel om die onwettige besluit te hersien en tersyde te stel.
Die minister word ook versoek om die hof te vra om die raadslede wat, ondanks waarskuwings dat hul optrede onwettig is, bewustelik ten gunste van die besluit gestem het, persoonlik aanspreeklik te hou vir die regskoste wat uit die litigasie voortspruit.
Knysna se belastingbetalers behoort nie gedwing te word om die finansiële las te dra van litigasie wat veroorsaak is deur raadslede wat, ondanks duidelike regsadvies, verkies het om politieke belange bo die reg te stel nie.
Die VF Plus sal voortgaan om korrupsie, onbevoegdheid, wanadministrasie en onwettige optrede by die Knysna-munisipaliteit bloot te lê.
’n Politieke amp plaas geen raadslid bo die wet nie. Dit is tyd dat die oppergesag van die reg in Knysna seëvier.


