Is Afrikaans ʼn dialek?
Dit is die vraag wat DF Malherbe in 1907 met sy doktorale tesis aan ʼn Duitse universiteit wou beantwoord; 32 jaar ná die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners wat vandag as Afrikaanse Taaldag herdenk word.
Dit was maar een van baie treetjies op pad na amptelike erkenning van Afrikaans – en alles wat daarop gevolg het, want erkenning is ook maar net ʼn mylpaal.
Waarom was Malherbe se vraag so belangrik? Omdat taal en identiteit vir Afrikaners vervlegde temas is. Afrikaans as taal was deel van Afrikaners se bewuswording. Sentraal tot vorming van die sosiale konstruk, wat ons Afrikaners noem. Indien ‘n mens van sulke hoogdrawende woorde hou.
Tot omstreeks 1875 het die woord “Afrikaner” oorwegend bloot verwys na iets wat inheems aan Afrika is. Afrikanerbeeste, Afrikanerskape ensovoorts. Hoewel Hendrik Bibault reeds in 1707 uitgeroep het: “Ic ben een Africaander,” het hy bloot sy weerstand teen die Nederlandse owerheid verklaar.
Die voorsate van huidige Afrikaners is regoor die latere Suid-Afrika “Boere” genoem, deur hulleself en deur ander. Dit was grootliks as gevolg van basies die enigste beroep wat hulle beoefen het. Verder het dit ook in die Kaapkolonie gegeld, nie net in die Boererepublieke, soos baie mense vandag dink nie.
Daar was egter nie ʼn sterk gevoel van gedeelde identiteit nie. Kolonialers, Vrystaters en Transvalers het gemaklik heen en weer beweeg en met mekaar getrou, maar ʼn volksbewussyn was grootliks afwesig.
Terwyl die Boererepublieke hul taal as Hollands beskou het, het die Britse owerheid aan die Kaap die hoogs gewysigde weergawe van Nederlands neerhalend “Cape Dutch” genoem.
Die Genootskap van Regte Afrikaners het in 1875 ʼn nuwe, omvattende identiteit voorgestel. Dit was Afrikaners, met Afrikaans as taal. Wie die woord almal insluit, sou nog baie gedebatteer word.
Een gevoel was om Engelse wat Suid-Afrika as enigste tuiste beskou, in te sluit. Nog een was dat dit almal, wit en bruin wat Afrikaans praat, moes insluit. Mettertyd het die begrip soos ons dit vandag ken, gekristalliseer.
So is ʼn nuwe begrip opgebou, dié van Afrikaners as volk met Afrikaans as taal. Dus: ʼn Sosiale konstruk.
Terug na Malherbe in 1907: Afrikaners was nog onder verskeie kolonies versprei en ʼn gevoel van lotsverbondenheid moes nog ontwikkel. Om die gebruikstaal toe te eien, te ontwikkel en status te verleen, was ʼn metode daartoe.
Daarom was dit ʼn belangrike vraag: Is Afrikaans ʼn taal, of slegs ʼn dialek van Nederlands?
Vandag is die verskeidenheid binne Afrikaans belangrik. Elke identiteit binne die Afrikaanse taal verdien erkenning. Maar terselfdertyd is samewerking binne die breër taalgemeenskap belangrik, om te keer dat die taal funksie verloor.
Ons wonder nie meer of Afrikaans ʼn taal of dialek is nie. Tog, die voortbestaan daarvan, in die akademie, beroepe en ook as taal van regering en politiek, is nie vanselfsprekend nie.
Dit lê in die monde van die sprekers daarvan. Laat dieselfde sin vir dringendheid ons voortgesette gebruik daarvan kenmerk.


