Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni-metro se 90,38%-invorderingskoers vertel nie die volle verhaal

Die Ekurhuleni-metro spog met ’n jaarlikse skuldinvorderingskoers van 90,38%. Op papier lyk dit gerusstellend, maar in werklikheid is dit ’n rookskerm wat die werklike situasie verdoesel.

Luidens die jongste verslag wat aan die finansiële-oorsigkomitee voorgelê is, is die invorderingskoers in Etwatwa slegs 6,79%, in Kwa-Thema 22,84%, Katlehong 23,72% en Daveyton 43,63%. Daarteenoor haal Boksburg 95,41%, Kemptonpark 96,65% en Edenvale 99%. Hierdie enorme verskille word versteek in die metro se gemiddelde persentasie.

Die VF Plus het reeds tydens die begrotingsproses gewaarsku teen ’n blote afhanklikheid van ’n 90%-invorderingsaanname en versoek dat konserwatiewe scenario’s van 85% en 88% getoets word.

Die jongste syfers bewys waarom daardie waarskuwing noodsaaklik was. ’n Metro kan nie volhoubaar funksioneer as sekere gemeenskappe se invordering op vlakke is wat eenvoudig nie finansieel lewensvatbaar is nie.

Dit skep ook ’n ernstige billikheidsvraagstuk. Inwoners en ondernemings wat hul rekeninge getrou betaal, kan nie voortdurend onder tariefdruk geplaas word terwyl invordering in ander gebiede ineenstort nie.

Die oplossing is nie nóg hoër tariewe vir betalende inwoners nie, maar gebiedspesifieke invorderings- en herstelplanne met duidelike maandelikse teikens, aanspreeklike amptenare en gereelde verslagdoening.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen dat die metro hierdie risiko’s daadwerklik aanspreek voordat belastinggetroue inwoners weer gevra word om méér te betaal.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.