fbpx
Vryheidsfront Plus

Onteiening sonder vergoeding sal Suid-Afrika finaal oor afgrond stoot

(Nasionale Vergadering aanvaar weer Onteieningswetsontwerp)

Die VF Plus het weer die Wetsontwerp op Onteiening in die Nasionale Vergadering (NV) verwerp nadat die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) dit met enkele veranderinge na die NV terugverwys het.

Die meerderheid van die NV het ʼn geleentheid gemis om hierdie drakoniese en ongrondwetlike wetsontwerp te verwerp met die minagting wat dit verdien.

Onteiening sonder vergoeding sal dit wat van Suid-Afrika oorgebly het ná dertig jaar onder die ANC verder vernietig.

Die veranderinge wat die NRP aangebring het behels meestal taal- en ander klein veranderings aan die oorspronklike wetsontwerp.

Die NRP kan maar soveel versiersuiker oor die wetsontwerp strooi soos hy wil, dit verander nie aan die feit dat dit ongrondwetlik is nie.

Die VF Plus daag die regering uit om self die grondwetlikheid van die wetsontwerp in die Grondwethof te gaan toets. Die Grondwet maak daarvoor voorsiening.

Daar is genoeg grond in Suid-Afrika beskikbaar vir herverdeling, maar die kenmerkende ANC-onbevoegdheid en gepaargaande administratiewe rompslomp is ʼn stok in die speke.

Die grond wat reeds deur grondhervorming verkry is en waarvan 90% van die projekte misluk het, asook ongebruikte grond in staatsbesit moet onmiddellik vir verdeling aangewend word waarna die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper teen markverwante pryse gevolg moet word.

Dit is ʼn mite dat grond gelyk staan aan rykdom en grondhervormingsprojekte was tot nou toe net ʼn teelaarde vir korrupsie. Die waarheid agter die wetsontwerp is populisme en ʼn bewys van die ANC se desperaatheid oor die komende verkiesing.

Beleggers gaan die land uitstroom. Onteiening sal handelsbanke, finansiële instellings en private eienaars negatief gaan raak. Die realiteit is dat die land se ekonomie totaal vernietig sal word.

Ter wille van Suid-Afrika en die toekoms van die land en volgende geslagte mag dit nie aanvaar word nie.

ʼn Gesonde balans moet verkry word tussen die ontwikkeling van behuisingsprojekte, die beskerming van eiendomswaarde en die bewaring van produktiewe landbougrond.

Die ANC mag nie toegelaat word om die land verder skade aan te doen nie. Op 29 Mei doen die geleentheid hom voor om te herstel en te bou en sodoende seker te maak dat alle Suid-Afrikaners ʼn sekere toekoms tegemoet kan gaan.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.