Die VF Plus-jeug het op Jeugdag 'n beroep op die jeug van Suid-Afrika gedoen om verantwoordelikheid vir hul eie toekoms in die land te neem. Die VF Plus beskou die herdenking van 16 Junie 1976 as relevant aangesien hierdie dag 'n deel van Suid-Afrika se geskiedenis is, maar pleit ook dat die fokus nie daar vashaak nie maar na die toekoms van die land verskuif word.
"Die VF Plus-jeug eis dat die regering ophou praat oor Jeugdag en die belangrikheid van die jeug en eerder hul erns met die jeug met dade bewys. As eerste stap moet die regering daadwerklik by die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) ingryp. Hierdie staatsorgaan is nie-funksioneel nie en vermors slegs openbare fondse op partytjies en buitensporige salarisse. Hierdie fondse kan vir die daadwerklike ontwikkeling van die jeug aangewend word," het Wouter Wessels, VF Plus-LPW en jeugleier gesê.
"Ons as jeug moet self opstaan vir ons regte, maar ook die verantwoordelikhede wat saam met hierdie regte kom, aanvaar. So moet ons verantwoordelikheid vir ons eie toekoms neem. Dit is dus belangrik om as jeug aktief by ons gemeenskappe betrokke te raak. Ons moet opstaan teen diskriminasie, teen die swak standaard van onderwys, teen die vermorsing van staatsgeld en teen swak dienslewering. Die Afrikaner-jeug kan 'n belangrike bydrae in Suid-Afrika lewer, maar word tans uitgesluit. Indien ons as jeug te midde ons diversiteit saamwerk, kan ons 'n suksesvolle toekoms vir ons land verseker," het Wessels gesê.
082 674 6670