Pres. Zuma moet sy Staatsrede more (Dinsdag 17 Junie) gebruik om hoop aan die jeug van Suid-Afrika te gee. Twintig jaar na 1994 lyk die toekoms vir talle jeugdiges bleek en sonder vooruitsigte.
Tans is 36% van alle jeugdiges werkloos. Die hoogste wat hierdie syfer nog was. Dit verklaar die groei van partye soos die EFF. Dit verklaar ook die prominente rol wat jongmense speel in die groot aantal protesoptogte oor dienslewering.
Die president se Staatsrede kan nie “business as usual” of in dieselfde trant as vorige staatsredes wees nie. Hy sal met nuwe inisiatiewe moet kom om die ekonomie te laat groei en om ’n herhaling van die platinumstaking te voorkom. Tans dreig AMCU om ’n soortgelyke staking by die goudmyne te begin. Veranderinge aan die Arbeidswette, soos die eenvoudige inbring van ’n geheime stemming voor elke staking, kan reeds groot verskille bring.
Suid-Afrika se lae groeikoers kan nie meer aan die buiteland, ons handelsvennote en die vorige resessie toegeskryf word nie. Ons handelsvennote herstel tans almal van die resessie met stygende ekonomiese groeikoerse. Ons lae groeikoers moet daarom regstreeks na huidige regeringsbeleid en onsekerheid by beleggers herlei word.
In die staatsrede verwag die VF Plus ook ’n ernstige verbintenis tot die Nasionale Ontwikkelingsplan en ’n duidelike aanduiding van die regering se ekonomiese rigting vir die volgende vyf jaar. Plaaslike ondernemings, voornemende beleggers en kredietgraderingsagentskappe moet weet of die ekonomiese rigting meer sosialisties of meer vrye mark gerig gaan wees. Meer sosialistiese rigtings met deurlopende staatsinmenging in die ekonomie sal die groeikoers verder laat daal en werkloosheid verhoog.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403