Na herhaaldelike oproepe van die VF Plus en twee besoeke aan die 107-noodsentrum en die Wesrand-distriksmunisipaliteit, lê die rommel van ‘n ongeluk wat drie weke terug plaasgevind het, nog steeds in Voortrekkerstraat. Dit is onaanvaarbaar sê Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus raadslid in Mogale City.
“Sedertdien is daar nog geen poging aangewend om die rommel te verwyder nie.”
Volgens De Lange het sy uit moedeloosheid, omdat die 107-sentrum se fone eenvoudig nie beantwoord word nie, self soontoe gery om die kwessie aan te meld. "Dit was opmerklik hoe die fone eenvoudig onbeantwoord bly lui tydens my besoek en die sowat sewe werkers ongestoord voortgaan met hulle kuier-sessies.
"Die beamptes wat na vele oproepe wel die telefoon beantwoord het, was uiters onbeleefd en hoorbaar geïrriteerd.”
Selfs nie eers die persoonlike besoeke het vrugte afgewerp nie en na drie weke lê die rommel steeds op die middelman en in die pad.
"Dit is kommerwekkend dat belastingbetalers in Mogale City streng verantwoordelik gehou word vir die betaling van hulle munisipale rekeninge en belasting maar dieselfde nougesetheid word nie deur die plaaslike owerhede gehandhaaf nie,” sê sy.
De Lange sê die swak onbehulpsame houding van personeel wat met die publiek werk is nie net beperk tot die 107-sentrum nie. Vele klagtes oor die personeel by die finansiële afdeling (waar inwoners hul rekeninge betaal) stroom ook gereeld in.
Die Vryheidsfront Plus sê inwoners is geregtig op die dienste waarvoor hulle betaal en oneffektiewe diens kan nie langer geduld word nie.
Kontak : 071 604 9498