Met die Noord-Kaapse provinsiale rede van die premier, me Sylvia Lucas, hoop die Vryheidsfront Plus dat sy die geleentheid sal gebruik om die Noord-Kaap tot sy reg te laat kom. In die provinsie van son, delfstowwe wat onverwerk uitgevoer word en kwesbare kultuurgroepe, is daar baie wat die provinsiale regering kan doen om sake te verbeter, sê dr. Wynand Boshof, leier van die VF Plus in die Noord-Kaap.
Dr. Boshoff sê die prys van sonpanele het sodanig gedaal dat die Noord-Kaap werklik die kragsentrum van Suid-Afrika kan word. Opwindende vooruitsigte met batterytegnologie versterk hierdie potensiaal.
“Die VF Plus glo dat gewone burgers op hul eie koste grootliks tot die oplossing van die kragkrisis kan bydra as die netwerk vir hulle son-opgewekte elektrisiteit geopen word. Elke plaasskuur, HOP-huis en ander gebou is in werklikheid 'n sonkrag-stellasie wat net op panele wag. Die hindernis is nie meer koste of tegniese probleme nie, maar politieke wil.
“Die opwinding oor sonkrag word verhoog deur die feit dat silikonbevattende klip, die grondstof vir sonpanele, volop in die provinsie voorkom. Uitvoerbaarheidstudies is in 'n gevorderde stadium en kan binnekort tot werkskepping en ekonomiese groei lei. Die provinsiale regering se deelname kan van onskatbare waarde wees.
“Terwyl Kumba tans ly onder dalende kommoditeitspryse, fokus dit die aandag weer op plaaslike waardetoevoeging tot ystererts. Die oorvloed sonskyn, saam met dalende pryse van sonkrag, kan die provinsie in staat stel om waarde toe te voeg en so die provinsiale ekonomie te laat groei.
“Afrikaanssprekende Noord-Kapenaars word aan bande gelê deur iets wat "Afro-Engelssprekende kolonialisme" genoem kan word. Tersiêre opleiding in hulle moedertaal verdwyn mettertyd, terwyl transformasiewetgewing gebruik word om mense uit ander provinsies in staatsbetaalde posisies in die Noord-Kaap aan te stel.
“Die VF Plus glo 'n kwotavrye sone behoort in die distriksmunisipaliteite van Namakwa, ZF Mcawu en Pixley ka Seme afgekondig word. Dit kan plaaslike werkskepping en Afrikaanse opleidingsmoontlikhede skep.
“Die VF Plus hoop dus dat die provinsiale rede die potensiaal van die provinsie sal help verwesenlik deur op volhoubare wyse die natuurlike- en menslike hulpbronne van die provinsie te ontwikkel,” sê dr. Boshoff.
Dr. Wynand Boshoff
Kontaknommers: 074 166 5540 / 083 419 5403