Pres. Cyril Ramaphosa se uitlatings oor gebeure by die Hoërskool Brackenfell en in besonder sy opdrag dat beweerde rassisme by die skool voortspruitend uit ’n private partytjie van leerlinge “dringend” ondersoek moet word, is onaanvaarbaar.
Die president het onder meer gesê mense mag nie in die openbaar of in privaatheid so optree dat die “beginsel van nie-rassigheid waarop die land se demokrasie gegrond is, ondermyn word nie”.
Hy het ook die EFF se optrede by die skool verdedig deur, verwysend na die EFF, te sê dit is “die reg van elke Suid-Afrikaner om vreedsaam protes aan te teken en dit mag nie deur geweld en intimidasie onderdruk word nie”.
Suid-Afrika se Grondwet bepaal duidelik dat almal die reg het op vrye assosiasie. Dit beteken president Ramaphosa is òf onkundig, òf hy is openlik rassisties aangesien almal in die land die reg het om in privaatheid te assosieer met wie jy wil.
Dit is duidelik dat die partytjie waarna verwys word, ’n private aangeleentheid was en nie ’n amptelike skoolgeselligheid nie. Dit is totaal onaanvaarbaar dat mense nou al voorgeskryf kan word met wie hulle in hul private lewe mag assosieer en met wie nie.
Ook die Menseregtekommissie (MRK) wys weereens hoe bevooroordeeld hy is oor die aangeleentheid. Hy tree uit sy eie op sonder dat enige klag nog ingedien is.
Daar is etlike voorbeelde waar die VF Plus self ernstige klagte by die MRK ingedien het oor rassisme waaraan bloot geen aandag gegee word nie. Dit is niks anders nie as dubbele standaarde.
President Ramaphosa beweeg op gevaarlike terrein as hy wil inmeng met die privaatheid van mense en op hul reg om te besluit wat hulle in privaatheid wil doen en wie hulle mag uitnooi na ’n private aangeleentheid soos ’n partytjie.
Ek sal as leier van die VF Plus hierdie saak in die parlement verder opneem met die president. Dit kan nie hier gelaat word nie.
Wat die EFF aanbetref, het dié party ’n jarelange, bewese rekord van gewelddadige protesoptredes. Clicks is ’n onlangse voorbeeld.
Vir die president om die EFF se reg op “vreedame protes”daarom te verdedig teen hul slagoffers se “geweld en intimidasie” is eweneens onaanvaarbaar en ’n openlike goedkeuring van die EFF se voortdurende pogings om rassekonflik te veroorsaak.