Eskom het vandag in ‘n mediaverklaring bekend gemaak dat 18 617 MW van sy opwekkingsvermoë onbepland onklaar geraak het, met 5 807 MW wat met beplande onderhoud uit aksie is.
Die 24 424 MW onbeskikbare opwekkingsvermoë is meer as 42% van dit waaroor Suid-Afrika beskik. As die land tans in ‘n hittegolf of bibberweer vasgevang was, kon die impak op die ekonomie nog groter as die huidige vlak 6-beurtkrag gewees het.
Met vlak 6-beurtkrag word sowat 37% van kragverbruikers in die donker gelaat, terwyl vlak 8 die syfer na 50% laat styg. Dit is steeds nie uitgesluit nie.
Die vorige krisis met onvoorsiene brekasies was in Desember 2022, toe sowat 20 000 MW onbeskikbaar geraak het. Dit was tydens uiterste warm weer, terwyl die waterbehoefte van somergewasse onder besproeiing hoog was.
Eskom het later erken dat vlak 8 beurtkrag vir kort rukkies toegepas is, hoewel dit nooit deel van die amptelike skedule was nie.
Die ironie van die kragkrisis is dat swak bestuur en onderhoud daartoe gelei het, maar dat die gevolge daarvan noukeurig bestuur word.
Sou dit gebeur dat kragaanvraag die beskikbare vermoë oorskry, sal die Suid-Afrikaanse kragnetwerk outomaties afskakel. Daarna sal dit dae neem om geleidelik weer teen ‘n frekwensie van 50 Hz aanlyn te kom. Dit is dus in almal se belang dat aanvraag eerder kunsmatig verlaag word.
Dit behoort niemand te verbaas as meer as die helfte van Suid-Afrika gedurende die komende winter sonder krag is nie. Die VF Plus moedig alle huishoudings en ondernemings wat dit kan bekostig, aan om hul eie kragplan te maak.
Dit behoort opwekking en berging te behels, wat druk op die netwerk sal verlig. Die dringendheid hiervan kan swaarder weeg as ‘n vakansie wat aan die einde van die jaar beplan word, of die vervanging van ‘n voertuig.
Gee ons krag – Suid-Afrika verdien beter as die ANC.