Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Omgewingsveranderlikes en geslagsgelykheid vorm ‘n delikate simbiose

(Parlementêre debat: Internasionale Vrouedag)

Die balans tussen geslagsgelykheid en omgewingsveranderlikes is só delikaat en interafhanklik van mekaar dat die een aangewese is op die ander vir sinvolle volhoubaarheid.

Geslagsgelykheid, die klimaatkrisis, ekonomiese groei en maatskaplike volhoubaarheid is nou met mekaar verweef en geslagsgelykheid is een van die kernkwessies van die Verenigde Nasies (VN) se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte van 2022 en sluit by die Internasionale Vrouedag-tema aan.

Statistiek toon aan dat 80% van mense wat deur klimaatsverandering en klimaatverwante rampe ontheem is, vroue en meisies is, terwyl 70% van die 1,3 miljard mense wat in toestande van armoede leef, vroue is.

Die realiteit hieroor verskil nie van Suid-Afrika en die res van die wêreld nie. Dit is duidelik dat armoede en voedsel-onsekerheid sentraal staan tot die kwesbaarheid van vroue en daar is 'n sterk korrelasie tussen honger en geslagsongelykhede.

Die Marginalized Groups Indicator se 2019-verslag toon aan dat gemiddeld 40,6% van huishoudings met 'n vroulike hoof sonder 'n werkende huishoudingslid was. Meer as 11% van huishoudings met 'n vroulike hoof het in 2019 ’n voedseltekort gehad vergeleke met 9,7% van huishoudings met 'n manlike hoof.

Volhoubare ontwikkeling leun swaar op die beëindiging van diskriminasie teenoor vroue en die verskaffing van gelyke toegang tot onderwys en werksgeleenthede.

Dit is tot die totale gemeenskap se wedersydse voordeel en daar is afdoende bewys dat geslagsgelykheid ekonomiese groei stimuleer, veral in lande met hoër werkloosheidsyfers en minder ekonomiese geleenthede.

Alhoewel Suid-Afrika se Grondwet en Handves van Regte aan vroue gelyke regte toeken en arbeidswetgewing vroue teen diskriminasie beskerm, toon statistiek oor salarisverskille aan dat wesenlike geslagsgelykheid nog lank nie bereik is nie.

In 2017 het die Wêreld-Ekonomiese Forum (WEF) 'n verslag saamgestel wat gegrond is op die geslagsgegronde loonverskil in 144 lande wêreldwyd. Dit het gefokus op gesondheid, ekonomie, politiek en onderwys. Een van die bevindings was dat Suid-Afrikaanse mans maandeliks sowat R6 600 meer as vroue verdien.

Statistieke Suid-Afrika se verslag oor regering, openbare veiligheid en geregtigheid, het in dié verband onrusbarende maatskaplike vooroordele blootgelê wat onder meer aantoon dat 64,7% van Suid-Afrikaners meen dat vroue wat meer as hul maat verdien, onmin in ‘n verhouding sal veroorsaak.

Dit is ’n kommerwekkende aanduiding dat diepgewortelde geslagstereotipering en ongesonde patriargale neigings 'n groot deel van die ongelykheidsprobleem is.

Geslagsgelykheid is onlosmaaklik verbind tot die globale volhoubaarheid van die mens. Die tyd het aangebreek dat dit uitgeleef word deur die ware bemagtiging van vroue.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.