Daar is tans geen beregter of liggaam van appèl vir lede van die staatsdiens se pensioenfonds of enige ander staatsdiens-fonds na wie lede hulle kan wend met probleme rakende hul fonds nie, en die VF Plus het daarom besluit om ‘n privaatlid-wetsontwerp in te dien om dié lede te beskerm.
Die primêre doel van die wetsontwerp is om deur ‘n beregter lig te skyn op die fondse en om ‘n liggaam te skep waar mense gratis om hulp kan aanklop deur te vra vir ‘n ondersoek na moontlike onreëlmatighede
So ‘n persoon moet die magte hê van iemand soos ‘n Openbare Beskermer wat ondersoek kan doen en mense kan roep om te getuig en om ‘n bindende bevinding te kan maak rakende die misbruik van, of onreëlmatighede met fondse.
Elk van die bestaande fondse word tans gerig word deur spesiale wetgewing met eie, unieke reëls. Die VF Plus wil onsekerheid wat hierdeur geskep word uit die weg ruim.
Dit kan net ten volle gedoen word met ‘n volledige wetsontwerp. Die VF Plus het om dié rede besluit om sy wetsvoorstelle om die Wysigingswetsontwerp op die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) in dié verband aan te pas, terug te trek aangesien dit nie omvattend genoeg sou wees nie.
Dit sal vervang word met die nuwe privaatlid-wetsontwerp wat sal bepaal dat lede van alle pensioenfondse, insluitende privaatfondse onder die jurisdiksie van die beregter sal val soos hy daar gestel is in terme van die Pensioenfondswet van 1956.
Die huidige openbare verhore na vergrype by die OBK het die noodsaaklikheid vir só ‘n beregter onderstreep. Die stroping van Transnet se pensioenfondse oor baie jare kon ook verhinder gewees het indien ‘n beregter in plek was soos wat die VF Plus nou wil bewerkstellig.
Die VF Plus is vol vertroue dat die wetsontwerp suksesvol sal wees aangesien dit beskerming aan almal in die samelewing sal bied teen die uitbuiting van hul beleggings.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 082 674 6670 / 065 801 7216