Die openbare beskermer (OB) het bevestig dat die adjunkpresident, Paul Mashatile, se twee seuns oor die toekenning van drie kontrakte onder verdagte omstandighede deur die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling ondersoek gaan word.
Die VF Plus beskou die besluit as ʼn positiewe stap om vas te stel of die tenderproses regtens korrek gevolg was en of die maatskappy en persone betrokke wel die gekontrakteerde dienste kan lewer.
Die VF Plus het in Februarie 2024 ʼn klag by die OB ingedien na aanleiding van berigte in Media24 wat aangedui het dat ʼn maatskappy waarvan Mashatile se seuns, Thabiso Mashatile en Tinyiko Mvelase, op strategiese tye direkteure was in ʼn kwessie van drie maande drie kontrakte van die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling ontvang het.
Die drie kontrakte blyk om onder verdagte omstandighede toegeken te gewees het. Die besluit van die OB om dit te ondersoek beaam die VF Plus se siening oor die aangeleentheid.
Dit was verdag dat die twee seuns van die adjunkpresident direkteure geword het van die maatskappy, Ngwato and Manzi Group, in die tydperke wat die tenders aan die maatskappy toegeken is.
Netwerk24 se ondersoek dui aan dat Thabiso Mashatile ʼn direkteur van die maatskappy was toe twee tenders in Maart 2022 toegeken is. Hy het egter net twee maande daarna op 10 Mei 2022 bedank.
Op dieselfde dag is Tinyiko Mvelase as direkteur aangestel. Dit was glo ʼn maand voordat Gauteng se departement van infrastruktuurontwikkeling in Junie 2022 nog ‘n kontrak aan die Ngwato and Manzi Group toegeken het.
Op 10 November 2023 het Mvelase bedank as direkteur.
Op die oog af blyk dit of die adjunkpresident se twee seuns op belangrike tye direkteure van die Ngwato and Manzi Group geword het. Dit kan moontlik wees om meer politieke gewig te gee aan die maatskappy se tenderaansoeke by die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling.
Daar is ander feite wat ook vreemd opval en moontlik daarop kan dui dat die kontrakte toegeken is aan ʼn maatskappy wat nie werklik in staat is om die werk te verrig nie.
Tans is die enigste direkteur van beide Ngwato en Manzi Group ʼn 24-jarige jong vrou, Thato Nokaneng, wat volgens haar TikTok-profiel werkloos is.
Die drie kontrakte wat aan die maatskappy toegeken is, behels hoogs tegniese en kundige werk, naamlik die verkryging en lewering van outoklaaf-toerusting (wat stoom onder hoë druk gebruik om items te steriliseer), asook boumateriaal en brandmonitering en -bestrydingsdienste.
Die geregistreerde kantoor van die maatskappy is boonop ʼn woonhuis in Alexandra, ʼn voorstad van Johannesburg.
Die vrae kan net beantwoord word deur ʼn ondersoek om vas te stel of die maatskappy voldoen het aan die vereistes gestel in terme van artikel 217 van die Grondwet, asook ander tersaaklike verkrygingsvereistes gestel in die tesourie se verkrygingsregulasies ingevolge die Openbare Finansiële Bestuurswet, die regulasies uitgevaardig ingevolge die Voorkeurverkrygingsbeleidraamwerkwet 5 van 2000 (Preferential Procurement Policy Framework Act 5 van 2000) en die provinsiale regering se eie verkrygingsbeleid.
Indien daar afgewyk is van dié vereistes, kan dit daarop dui dat die aanstellings gedoen is om die toeken van die kontrakte in die maatskappy se guns te swaai.
Die VF Plus vra ook dat die OB ondersoek instel na watter voordele Thabiso Mashatile en Tinyiko Mvelase moontlik persoonlik uit die toekenning van die regeringskontrakte kon verkry het.
Die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling is wel bekend as die swakste presterende departement van die provinsiale regering wat veral berug is vir die stadige tempo waarteen skoolinfrastruktuur gebou word en vir die vertraging van belangrike infrastruktuurprojekte in Gauteng.
Daarom kan dié departement dit nie bekostig om diensverskaffers aan te stel wat nie projekte op standaard, binne tyd en binne die begroting suksesvol kan afhandel nie.