Nadat Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys, enkele weke gelede nog positiewe uitsprake oor moedertaalonderrig gemaak het, het hy skielik weer omgeswaai deur te sê Engels is die enigste taal wat alle mense toegang tot hoër onderwys gee, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys.
In antwoord op ‘n parlementêre vraag van adv. Alberts oor die moontlikheid om weer moedertaalonderrig buiten Engels by sommige universiteite te gebruik in die lig van die minister se positiewe uitsprake, was die antwoord bloot dat, alhoewel almal in Suid-Afrika ingevolge die Grondwet die reg op moedertaalonderrig het, dit ook die staat se plig ingevolge die Grondwet is om seker te maak dat niemand daarvan uitgesluit word nie.
Die antwoord lui voorts dat Engels die een taal is wat aan hierdie vereiste voldoen.
Adv. Alberts sê in die praktyk is dit bloot nie waar nie. Hy sê daar is heelwat plekke in die land waar die meerderheid mense nie Engels magtig is nie of dit slegs uiters gebrekkig kan gebruik, wat hulle dan geheel en al hoër onderrig op enige plek in Suid-Afrika ontsê.
Voorbeelde hier is die Noord-Kaap waar mense feitlik uitsluitlik Afrikaans praat, en die KwaZulu/Natalse platteland waar Zoeloe by uitstek die enigste omgangstaal is.
“Dit is jammer dat die minister se oggend- en aandpraatjies nie ooreenkom nie, en dit kan nie meer ontken word dat die ANC-regering absoluut geen erns het met moedertaalonderrig nie. Daar is duisende jong mense in Suid-Afrika wat hierdeur hul grondwetlike reg om te studeer ontneem word,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403