Indien die Midvaal-plaaslike munisipaliteit (De Deur/Walkerville, Eikenhof, Meyerton, Vaal Marina) sy stormwaterpype en -slote voor en tydens die reënseisoen onderhou het, sou die skade aan ʼn nuwe winkelsentrum in Meyerton heel moontlik minder gewees het.
Die Riverstone Mall het Sondag oorstroom na swaar reënval. Die skade gaan die ontwikkelaars derduisende uit die sak jaag.
Die VF Plus het vier maande gelede die voorsitter van die munisipale oorsigkomitee vir ingenieurswese, Reginald Hubberd, gevra dat daar aandag aan Midvaal se stormwater-afvoerstelsels gegee word.
Die party het ook die burgemeesterskomiteelid vir paaie, Chante Gomez, gevra om die probleem aan te spreek. Geen gehoor is aan die versoeke gegee nie.
Die VF Plus is van mening dat, indien daar gehoor gegee is aan dié versoeke, die skade beperk kon word.
Die party sal aanhou om druk op die munisipaliteit te plaas om dringend aandag te skenk aan die probleem.


