Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Nuwe misdaadvoorkomings-model vir Gauteng noodsaaklik na 31 jaar van agteruitgang

(Debat in Gauteng-wetgewer oor jaarverslag van departement van gemeenskapsveiligheid)

Meer as dertig jaar ná die vestiging van ‘n nuwe demokrasie behoort Gauteng as ekonomiese hartland van Suid-Afrika ’n veilige, funksionele provinsie te wees.

Tog wys die 2024/25-jaarverslag van die departement van gemeenskapsveiligheid dat misdaadvoorkoming steeds ’n afdraende trajek toon, met kritieke stelsels wat eenvoudig nie werk nie.

Die portefeuljekomitee se bevindings toon ernstige tekortkominge, R54,3 miljoen se onreëlmatige besteding, duur onbenutte misdaadvoorkomings-hommeltuie en voortdurende onsekerheid oor die bevoegdheid, veiligheid en versekering van Gauteng se omstrede teenmisdaad-beamptes ook bekend as die AmaPanyaza.

Hierdie projek wat die openbare beskermer (OB) onlangs as vrugteloos en onwettig bevind is, is ‘n verdere bewys van ‘n duur mislukte politieke eksperiment.

Die onderbemande en oorlaaide polisie kan dikwels nie eens basiese reaksietye handhaaf nie.

Gemeenskapsveiligheidsstrukture van gemeenskapspolisiëringsforums en private gemeenskap-sekuriteitinisiatiewe moet gevolglik die gaping vul, maar doen dit sonder die nodige volhoubare befondsing, opleiding of koördinering.

Ná 31 jaar is dit duidelik dat ’n sentralistiese veiligheidsmodel nie vir Gauteng werk nie.

Die VF Plus dring daarop aan dat misdaadvoorkomingsbevoegdhede dringend na provinsiale vlak afgewentel word, sodat Gauteng sy eie strategieë, wetstoepassingsprioriteite en voorkomingsinisiatiewe kan bestuur.

Die VF Plus stel daarom voor dat die provinsie ’n Gauteng Gemeenskapsveiligheidondersteunings-wetsontwerp oorweeg en daardeur ’n wettige, professionele en verantwoordbare raamwerk vir ’n rovinsiale veiligheidsondersteuningsdiens vestig wat volledig geïntegreer is met die polisie en munisipale wetstoepassing.

Gauteng kan nie nóg 31 jaar van agteruitgang bekostig nie.

Die tyd vir ’n nuwe veiligheidsmodel is nou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.