Die VF Plus gaan ondersoek instel na die nuwe e-Siyakhokha aanlyn-betaalstelsel van die Ekurhuleni-metroraad omdat die nuwe stelsel die betalingsproses vir dienste deur belastingbetalers eerder bemoeilik as vergemaklik.
Die party ontvang baie klagte van die publiek en ‘n gedeelte van die ondersoek sal handel of die korrekte tenderproses gevolg is met die ingebruikneming van die nuwe betaalstelsel. Met die afhandeling van die ondersoek sal ‘n vergadering met die burgemeester, Mzwandile Masina, belê word om ‘n oplossing te vind vir die probleme.
Van die probleme waaroor verbruikers kla, is die volgende:
• Enige naam of ID-nommer kan vir registrasie doeleindes gebruik word, ongeag of dit bestaan of nie.
• Dit gebeur gereeld wanneer ‘n persoon sy rekeningnommer in sleutel die skakel hom na ‘n verkeerde rekening neem. Die munisipaliteit maak op hierdie manier inligting van ander verbruikers onwettig bekend aan ‘n derde party.
• Maatskappye, agente of eienaars wat verhurings doen kan nie met die huidige stelsel veelvuldige rekeninge bestuur nie. Die stelsel laat dit nie toe nie.
• Die huidige stelsel het nie ‘n funksie om vorige rekeningstate na te speur nie wat die verbruiker kortwiek om sy betalings na te gaan.
• Die kommunikasie opsie in die vorm van eposse en SMS’e is nie aktief nie en daarom is dit moeilik om enige vorm van aanlyn-ondersteuning te vra.
Die VF Plus is ‘n voorstander van vernuwing, maar ‘n nuwe stelsel moenie ‘n stap agteruit beteken vir verbruikers nie.
Die Ekurhuleni-metroraad moes eers behoorlike navorsing gedoen het om te sorg dat die betaalstelsel verbruikersvriendelik is en ‘n verbetering op die vorige stelsel is voor dit geïmplementeer is.
Kontaknommer: 072 217 1951