Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

NRP-begrotingsdebat: Maatskaplike ontwikkeling – ANC wil nie leer dat herverdeling van rykdom nie welvaart skep nie

 

Selfs ná 25 jaar het die ANC steeds nie geleer dat die herverdeling van rykdom nie welvaart skep nie. Dit is eerder ‘n struikelblok in die pad van ekonomiese groei wat werkloosheid en armoede vir almal tot gevolg het.

Regstellende Aksie (RA), wat net sowel Rasdiskriminerende Aksie genoem kan word, is besig om die land se ekonomie te vernietig. Dit is belangrik om alle mense op te hef, maar dit moet nie ten koste van ander geskied nie.

Ook die beleid van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) is net tot die voordeel van ‘n klein swart elite wat reeds verdiende rykdom tussen ‘n paar mense verdeel sonder om enige welvaart te skep.

Bates word uitgedeel in stede daarvan om entrepreneurskap en die opheffing van gemeenskappe te bevorder. Ekonomiese bemagtiging in Suid-Afrika moet nie op die verryking van sekere individue gerig wees nie, maar eerder op die ware bemagtiging van gemeenskappe.

Kleur kan bowendien nie alleenlik gebruik word as maatstaf vir opheffing nie. Ná 25 jaar van demokrasie moet sosio-ekonomiese faktore die bepalende maatstaf wees. Faktore soos armoede, werkloosheid en ‘n gebrek aan opvoeding moet in ag geneem word.

Daar is talle voorbeelde hoe die ANC se SEB-beleid uiteindelik die armstes in die land die nadeligste raak. Waar maatskappye voorheen geld vir nie-regeringsorganisasies geskenk het, is hulle ná die implementering van strenger SEB-wetgewing nou huiwerig om geld te skenk, aangesien hul SEB-punte hul belastingstatus mag beïnvloed.

‘n Voorbeeld is kinderhuise. Indien daar een wit kind in ‘n kinderhuis is, sal maatskappye wat geld wil skenk, weens SEB-teikens nie belasting kan terugeis nie. Indien daar dus ‘n honderd kinders in ‘n kinderhuis is, en een kind is wit, huiwer maatskappye om te skenk tot nadeel van die ander 99 kinders.

In die Vrystaat is tans ‘n voortslepende hofgeding oor die departement van maatskaplike ontwikkeling se beleid van geldelike toedeling aan maatskaplike diensorganisasies soos kinderhuise. Die mense wat afhanklik van hierdie skenkings is, moet die prys hiervoor betaal.

Die VF Plus verwerp die toepassing van rassekwotas in die toewysing van staatsbefondsing aan maatskaplike diensorganisasies.

Armoede is ’n nasionale probleem wat ‘n groot gedeelte van die samelewing vanuit alle gemeenskappe raak en die VF Plus sal hom daarvoor beywer om ‘n gemeenskapsgebaseerde, maatskaplike diens te bevorder.

Kontaknommer: 076 629 6219

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.