In ‘n ongekende stap in Suid-Afrika se staatkundige bestel sedert 1994, het die hooggeregshof die staatspresident se bevoegdheid om die hoof van openbare vervolging aan te stel van hom ontneem aangesien die president self deur vervolging in die gesig gestaar word en nie met ‘n nuwe aanstelling vertrou kan word nie, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.
Dr. Mulder sê regter Dunstan Mlambo se uitspraak vandag wat adv. Shaun Abrahams uit sy pos as nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) verwyder het, is daarom ‘n oorwinning vir geregtigheid aangesien sy aanstelling in die pos hoogs verdag was.
Dr. Mulder sê die regter se aanbeveling dat adjunkpresident Cyril Ramaphosa ‘n nuwe NDOV aanwys, skep die geleentheid om ‘n ervare en onbeskimmelde persoon aan te stel om te verseker dat die NDOV se kantoor weer vertroue onder die publiek inboesem.
Hy sê dit sal verkeerd wees om weer die vorige direkteur, Mxolisi Nxasana, aan te stel aangesien daar allerweë aanvaar word dat pres. Zuma hom in 2015 met R17 miljoen omgekoop het om sy pos te ontruim.
“Hierdie is inderdaad goeie nuus wat positief ontvang sal word deur die publiek. Daar lê nou egter ‘n groot taak op die skouers van adjunkpresident Ramaphosa om te wys dat hy erns daarmee het om korrupsie te beveg deur die regte persoon aan te stel.
“Die VF Plus sou graag ‘n bekwame regsgeleerde soos die vorige Openbare Beskermer (OB) in die pos wou sien,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 065 801 7216