Die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, se provinsiale rede het getuig van visie en die VF Plus het waardering daarvoor. Tog is daar ook kommer oor die ANC-regering se vermoë om sy planne uit te voer.
Beplanning vir 'n diepseehawe by Boegoebaai, die eerste van sy soort in die provinsie, kan tot aansienlike ontwikkeling in die provinsie lei. Saul se ondersteuning vir die toenemende ontwikkeling van hernubare kragbronne is ook van belang.
Hierdie vernuwings kan die huidige landbou- en mynbou-ekonomie van die provinsie aanvul en tot groeiende welvaart lei.
Die unieke kulturele aard van die Noord-Kaap is vir die VF Plus belangrik. Daarom is dit belangrik dat uitvoering op dieselfde hoë vlak as die visie is. Dit kan die ekonomiese grondslag vir die behoud van verskeie klein kultuurgroepe skep.
Dit sal voordelig wees as die ondersteuners van die VF Plus se deelname aan hierdie groot onderneming nie beperk sal word nie.
Ongelukkig wys die provinsie se baanrekord met betrekking tot onderwys, gesondheid en plaaslike regering dat goeie voornemens nie genoeg is nie. As opposisieparty sal die VF Plus fyn dophou dat die mooi visie van die premier nie deur korrupsie, wanbestuur en onbekwaamheid in die war gestuur word nie.
Kontaknommer: 082 561 4668