Die Vryheidsfront Plus het die minister van polisie, Nathi Nhleko en die minister van openbare werke, Thulas Nxesi, by die Openbare Beskermer asook by die parlement se etiese komitee aangekla dat hulle die parlement mislei het.
Die verslag wat die ministers oor Nkandla aan die parlement voorgelê het, het bevind dat al die opgraderings by Nkandla veiligheidsopgraderings was en dat die president geen bedrag hoef te betaal nie. Tydens die hofsaak voor die Konstitusionele Hof het president Zuma aangebied om ‘n sekere bedrag te betaal vir die opgraderings by Nkandla.
Die president betaal dus nou vir minister Nhleko en Nxesi se brandpoel wat skielik weer ‘n swembad geword het. Dit geld ook die ander opgraderings wat die hof genoem het.
Die enigste gevolgtrekking wat hieruit gemaak kan word, is dat die betrokke ministers die parlement berekend mislei het deur in hulle verslag te bevind dat alle opgraderings veiligheidsopgraderings was waarvoor nie betaal hoef te word nie.
Die Wet op die Etiek van Lede van die Uitvoerende Gesag (Wet 82 van 1998) skryf voor hoe die Openbare Beskermer oortredings van die etiese kode vir lede van die uitvoerende gesag moet ondersoek. Die wet spruit uit artikel 96 van die Grondwet wat die gedrag van kabinetslede bepaal.
Artikel 2.3(a) van die kode lui: “Members of the executive may not wilfully mislead the legislature to which they are accountable.”
Die VF Plus is van mening dat die Openbare Beskermer moet ondersoek of die ministers die parlement mislei het of nie.
Artikel 8.2 van die kode lui: “A member must assist the Public Protector in the performance of the Public Protector’s functions under the act.”
Daar is groot vraagtekens of die betrokke ministers die Openbare Beskermer gehelp het in die uitvoering van haar pligte of berekend haar taak bemoeilik het.
Omdat die ministers ook lede van die parlement is, het die VF Plus reeds in ‘n brief gevra dat die parlement se etiese komitee ook hulle optrede in hierdie verband ondersoek. Die etiese komitee was vinnig om lede wat nie al hulle belange verklaar het nie, voor stok te kry. Ons aanvaar hulle sal dieselfde in hierdie geval doen.
Dit is interessant dat mnr. Zuma die Etiese Kode vir Lede van die Uitvoerende Gesag op 20 Julie 2000 geteken het as waarnemende president (Government Gazette: No 21399 Notice No 41 Regulation 6853. Date 20000728).
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670