In ‘n poging om die huidige elektrisiteitsvoorsieningsprobleem aan te spreek, is ‘n nuwe rondte samesprekings tussen Ngwathe en sy kragvoorsiener, Eskom, vir eerskomende Maandag geskeduleer. Intussen staar Parys se inwoners reuse probleme in die gesig met ‘n enorme verwagte koue front in aantog.
In ‘n onlangse verklaring voer Eskom aan dat hy al sy verpligtinge teenoor die Ngwathe-plaaslike munisipaliteit (Parys, Heilbron, Koppies, Edenville, Vredefort) nakom, waarmee die VF Plus drasties verskil.
Volgens Eskom word die kwessie met die munisipaliteit bespreek en is die proses onderhewig aan kredietbeheer. Verder voer hy aan dat die munisipaliteit se kragvoorsiening verhoog sal word sodra die munisipaliteit onderneem om sy groot agterstallige rekening te betaal. Dit word ook vermeld dat die munisipaliteit hom nie by die huidige betalingsooreenkoms hou nie.
Die hoofoorsaak van ‘beurtkrag’ ontstaan uit Eskom se weiering om meer krag aan die munisipaliteit te voorsien as waarop daar oorspronklik in 2008 ooreengekom is. Eskom pas tans ‘n limiet van 21 KVA toe, terwyl die munisipaliteit se behoefte sedert dié ooreenkoms vergroot het tot 25 KVA.
In dié voorsieningsooreenkoms is daar ook geen sprake van enige “kredietbeheermaatreëls” wanneer die grootmaatvoorsieningskapasiteit (NMD) aangepas moet word nie.
Dit kom verder voor asof Eskom die begrip “uitstaande skuld” verwar met die begrip “opeisbare skuld”. Ngwathe se hoof-finansiële beampte het aan die VF Plus bevestig dat die munisipaliteit deurentyd streng by die paaiemente-skedule hou en op datum is met betalings. Die totale uitstaande skuld is gevolglik nie “opeisbaar” nie.
Dit sal geen “roekelose” optrede van Eskom, soos hy in sy verklaring beweer, verg om die munisipaliteit se aansoek om tegniese verhoging van die ooreengekome NMD te akkommodeer nie. Die bestaande infrastruktuur is heeltemal voldoende en geen grootskaalse uitbreiding van Eskom se kapasiteit is nodig om gerieflik aan Ngwathe krag te voorsien nie.
Eskom beskik reeds oor twee transformators in Parys wat elk 20 KVA krag kan voorsien. Alhoewel een van die transformators ‘n mate van herstelwerk benodig, kan beide transformators gemaklik in Parys se behoefte van 25 KVA voorsien.
Dit is geen geheim dat Eskom sukkel om die ligte aan te hou weens probleme met sy eie opwekkings- en instandhoudingsvermoë nie.
Eskom verkies egter om die skuld na munisipaliteite te verskuif.
Die regering skuld homself nie net geld nie, maar laat toe dat die ekonomie en sy inwoners daaronder ly.
Die VF Plus sal aanhou veg dat Eskom sy kontraktuele en morele verpligtinge teenoor inwoners nakom.
Navrae: 082 380 0753