Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Nasionale owerheid aandadig aan voortslepende chaos in Ditsobotla

Die versuim om doeltreffend in te gryp by die voortslepende chaos in die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit maak die nasionale owerhede aandadig aan die verval van eens vooruitstrewende dorpe soos Lichtenburg en Coligny.

In die jongste voorval is munisipale raadslede en werknemers verlede week gedreig, aangerand en geïntimideer deur veiligheidswagte wat onwettig deur ‘n ANC/EFF-faksie by die munisipaliteit aangestel is. Alles in die teenwoordigheid van die plaaslike polisie wat skynbaar weier om teen die skuldiges op te tree.

Hierdie voorval volg op soortgelyke optrede vroeër waar geweld uitgebreek en daar selfs op persone geskiet is deur die onwettig aangestelde veiligheidswagte.

Hierdie faksie, onder leiding van Olaotse Bojosinyane, Molefe Morutse en Manana Bogatsu doen hulself onwettig voor as onderskeidelik munisipale bestuurder, burgemeester en speaker by die munisipaliteit.

Hulle beset tans die munisipale kantore en het onwettig toegang tot die munisipaliteit se bankrekeninge.

Ðít ten spyte van ‘n hooggeregshofbevel wat hulle uitdruklik verbied om hulself valslik as amptenare of ampsdraers van die munisipaliteit voor te stel.

Wat hierdie situasie des te meer ontstellend maak, is die feit dat die VF Plus reeds in Augustus 2024 omvattende voorstelle aan Velenkosi Hlabisa, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) gedoen het om doeltreffend in te gryp by die vlaag van onwettigheid by die Ditsobotla-munisipaliteit

Die VF Plus het onder meer versoek dat ‘n hoëvlak taakspan bestaande uit die polisie, die Valke, die nasionale tesourie en die nasionale vervolgingsgesag in Ditsobotla ontplooi word sodat daar ‘n behoorlike ondersoek na die misdadigheid by die munisipaliteit gedoen kan word en die skuldiges vervolg word.

Die VF Plus het ook uitgewys dat ‘n normale art. 139-ingryping nie by Ditsobotla van toepassing gemaak kan word nie weens die vlak van misdadigheid en wetteloosheid wat reeds vir jare in Ditsobotla heers.

Die versuim van die owerhede het die gemeenskappe van Ditsobotla versaak en dorpe soos Lichtenburg en Coligny in ‘n staat van verval gelaat.

Dit is ook ‘n skandvlek op die naam van die ANC-regering in Noordwes wat skynbaar eweneens faksiebelange bo die belange van die Ditsobotla-gemeenskap stel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.