fbpx
Vryheidsfront Plus

Mulder nie verder as leier beskikbaar nie

Dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, het homself nie weer as leier verkiesbaar gestel op die party se driejaarlikse verkiesingskongres wat hierdie naweek in Johannesburg plaasvind nie. Die party sal nou by die vergadering ‘n nuwe leier moet aanwys.

Dr. Mulder is vanjaar 15 jaar lank leier van die VF plus nadat hy in 2001 onbestrede as leier gekies is na genl. Constand Viljoen se uittrede. Sedert 2001 is dr. Mulder by elke VF Plus-reorganisasie nog eenparig verkies en was hy weer onbestrede as leier by vanjaar se verkiesing genomineer.

Dr. Mulder het geargumenteer dat omdat hy nie van plan is om aan die 2019-verkiesing deel te neem nie, dit net billik is om ‘n nuwe leier geleentheid te gee om hom of haar voor 2019 te vestig. Die volgende reorganisasievergadering van die VF Plus vind eers na 2019 plaas. Hy is wel bereid om vir ‘n oorgangstydperk as VF Plus-parlementslid aan te bly. Dr Mulder is vanjaar 28 jaar ononderbroke in die parlement nadat hy in Maart 1988 vir die eerste keer verkies is. Dit maak hom die parlementslid met die langste ononderbroke diens in die huidige parlement.

Volgens dr. Mulder is die party goed gevestig, sonder skuld en met takke en strukture in al die provinsies. Die VF Plus het ook sy steun in die 2016-plaaslike verkiesing verdubbel met raadslede in al nege provinsies. Die VF Plus het vyfde gekom van die 200 politieke partye wat aan die 2016 plaaslike verkiesing deelgeneem het. Dit verskaf ‘n goeie platform vanwaar ‘n nuwe leier die VF Plus verder kan uitbou op pad na 2019 se verkiesing.

Dr. Mulder was ‘n professor en departementshoof in Kommunikasiekunde voordat hy die politiek betree het. (Sien aangehegte CV).

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670

 

Verkorte Curriculum Vitae

Dr Pieter W.A. Mulder

1, Dr. Pieter Mulder het sy hoërskoolopleiding aan die Riebeeck Hoërskool Randfontein voltooi. Hy was onder andere hoofseun, het vir die eerste span rugby gespeel en was in atletiek Victor Ludorum.

2. Na skool verrig hy sy militêre diensplig. Aan die einde van die jaar is die eresabel aan hom toegeken as die beste offisier van die jaar.

3. Hy studeer aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO waar hy op 26-jarige ouderdom sy Doktorsgraad in Kommunikasiekunde voltooi.

4. As student was hy onder andere Voorsitter van die Studenteraad, het hy vir die Universiteit se O/20-rugbyspan gespeel en was hy Voorsitter van die Alabama-studentegeselskap.

5. Gedurende 1981 studeer hy vir ‘n jaar aan die Universiteit van Wisconsin, Madison, in die Verenigde State van Amerika en voltooi sy Post-Doktorale studies in Internasionale Kommunikasie.

6. Hy was vir veertien jaar dosent, professor in Kommunikasiekunde en departementshoof aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO.

7. In 1988 is hy as Parlementslid verkies en is vanjaar reeds 28 jaar lid van die Parlement. Hy was ‘n stigterslid van die Vryheidsfront in 1994 en is in 2001 as Leier van die Vryheidsfront Plus verkies.

8. In 2008 verskyn sy boek, Kan Afrikaners toyi-toyi?, waarin hy ‘n humoristiese binneblik op gebeure en interpersoonlike verhoudings in die parlement en Suid-Afrikaanse politiek bied.

9. Van 2009 tot 2014 was hy adjunkminister vir Landbou, Bosbou en Visserye.

10. In 2010 is hy tot die dagbestuur van die internasionale organisasie UNPO, wat na minderhede in die wêreld kyk, in Switserland verkies.

11. Hy het verskeie kere as kerkraadslid in sy kerk gedien en is deurlopend aktief betrokke in Afrikanerkultuurorganisasies.

12. Hy speel muurbal, lees graag en stel in sterrekunde en geskiedenis belang.

13. Dr. Pieter Mulder is met mej. Triena Roestorf getroud. Triena het haar B.Sc. Honneurs in Wiskunde aan die PU vir CHO voltooi en het vir 20 jaar Wiskunde aan die hoërskool Gimnasium gegee. Hulle het vyf kinders.

 

 

ooooOOOOoooo

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.