Die munisipale bestuurder van die Modimolle-Mookgophong-plaaslike munisipaliteit (Nylstroom, Naboomspruit, Vaalwater), dr. Melusi Shepherd Mhlanga, het behoorlik deurgeloop onder vrae van kommissarisse van die Menseregtekommissie (MRK) in Limpopo tydens ‘n verhoor wat van 26 tot 27 November 2020 in Modimolle gehou is oor ‘n VF Plus-klag van besoedeling.
Die verhoor deur die MRK spruit voort uit ‘n klag wat die VF Plus meer as ‘n jaar gelede teen die munisipaliteit ingedien het vir ernstige mense- en omgewingsregskendings weens riool wat voortdurend in die Nylsvlei-biosfeer gestort word.
Die munisipale bestuurder moes onder die druk van vrae toegee dat die munisipaliteit die gemeenskap van Modimolle en Mookgophong gefaal het.
Ernstige gevolge is egter nou die munisipaliteit en die munisipale bestuurder se voorland weens twee hofbevele hieroor teen die munisipaliteit wat geïgnoreer is. Aansoeke vir minagting van dié hofbevele sal binne veertien dae gebring word deur die betrokke applikante in die sake.
Die voorsitter van die verhoor en provinsiale bestuurder van die MRK in Limpopo, mnr. Victor Mavhidula, het gesê dat korrupsie die gemeenskap benadeel en dat dit duidelik blyk dat die munisipaliteit beheer verloor het.
Die bevindinge van dié verhoor word in die eerste kwartaal van 2021 verwag.
Die VF Plus sal voortgaan om die situasie in die munisipaliteit te monitor en nie huiwer om die gemeenskappe se belange ten alle koste te beskerm nie.


