Die VF Plus beskou die kritiek wat Panyaza Lesufi gelewer het teen die Coligny-2-uitspraak van die hoogste hof van appèl, as onvanpas en onbestaanbaar met sy posisie as onderwys-LUR vir Gauteng.
Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die premier van Gauteng, David Makhura, geëis dat Lesufi afgedank word.
Lesufi het homself oor die afgelope tyd telkens besig gehou met kwessies wat niks met sy pos as LUR te make het nie, terwyl daar ernstige probleme in sy departement is. So het hy kritiek en opinies – veral op Twitter – gelewer teen onder meer Orania se bestaansreg en dat sy lewe bedreig word deur 'n burgerregte organisasie.
Wat laasgenoemde betref, het hy nog geen bewyse daarvan gelewer nie.
Hy hou homself ook besig met die promovering van sy sokkerspan waarin hy aandele het waarvan een van die borge 'n groot kontrak op 'n onreëlmatige wyse by die Gautengse regering verkry het. Die VF Plus het die openbare beskermer (OB) versoek om die kontrak te ondersoek. Volgens die OB is die ondersoek in ‘n gevorderde stadium.
Wat die probleme in die onderwysdepartement onder Lesufi se leiding betref, word daar heeltemal te min skole opgerig gegewe die demografiese groei in Gauteng. Hy verkies om eerder Afrikaanse skole te teiken om anderstalige leerlinge in te neem.
Die VF Plus het dit reeds gestel dat die teistering van Afrikaanse skole onwettig en immoreel is gegewe die feit dat Afrikaanse skole slegs 6% van alle openbare skole in Gauteng uitmaak. Daarby is daar elke jaar geweldige probleme om leerlinge in skole te plaas weens die gesentraliseerde aanlynstelsel wat nie effektief funksioneer nie.
Daar is nog talryke ander probleme wat leerlinge se opleidingstoekoms in gevaar stel wat nie aandag geniet nie weens die politieke leierskap onder Lesufi wat aandag gee aan sake wat nie relevant is tot die departement nie.
Dit is lankal tyd vir Lesufi om verwyder te word.