fbpx
Vryheidsfront Plus

Mogale City moet bywette toepas om wet en orde te handhaaf

Die Mogale City-plaaslike munisipaliteit kan nie toelaat dat informele ondernemings langer munisipale bywette verontagsaam terwyl georganiseerde ondernemings hard moet werk om nie net regulasies na te kom nie, maar ook om te oorleef in swak ekonomiese omstandighede.

Munisipale bywette word ingestel om wet en orde in ‘n munisipale gebied te handhaaf en gelyke geleenthede aan alle entrepreneurs en sakelui te bied.

In Krugersdorp word motoriste gekonfronteer met straatverkopers wat goedere smous op feitlik elke straathoek terwyl ander kitsgras, saailinge, meubels en dies meer langs paaie verkoop. Elke lamppaal, stopteken en kragboks het ‘n onooglike advertensiegeleentheid geword vir mense om hul ondernemings en dienste te adverteer.

Persone wat hul ondernemings vanaf sypaadjies en straathoeke bedryf, doen dit op munisipale grond waar geen lopende water of toiletgeriewe is nie.

Entrepreneurs wat ondernemings vanaf hul huis bedryf, neem ook toe. Onwettige verkoopsmanne smous motors op sypaadjies voor huise terwyl entoesiastiese motorwerktuigkundige hul motorhuise in werkswinkels omskep.

Die VF Plus is bewus van die ekonomiese insinking en krimpende werksgeleenthede, maar die formele sakesektor word negatief deur hierdie bedrywe geraak. Dit is juis hierdie formele sektor wat gedwing word om te voldoen aan elke munisipale regulasie en belasting betaal.

Hulle moet sakeregte op hul eiendom bekom, voldoen aan arbeidswetgewing, gesondheidsregulasies en elke bywet wat van toepassing is op die betrokke besigheid. ‘n Geordende sakekultuur is nodig en daarom doen die VF Plus ‘n beroep op inwoners om eerder formele ondernemings te ondersteun.

Die party sal ook die munisipaliteit vra om streng op te tree teen straatsmouse, bedelaars en onwettige ondernemings. ‘n Dorp se ekonomie kan slegs groei wanneer dit in ‘n geordende omgewing plaasvind.

Kontaknommer: 082 806 7891

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.