'Hoe later hoe kwater' lui die spreekwoord. Hoe meer Mogale City se bestuurslui ontken dat daar probleme met die munisipaliteit se betaalsisteem of altans sisteme is, hoe meer stroom die klagte oor foutiewe rekeninge in," sê Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus raadslid in Mogale City.
“Inwoners leef permanent met 'n swaard oor hulle koppe. Al word rekeninge gerekonsilieer en foute reggestel, is die volgende maand se rekening weer foutief met bedrae wat drasties verskil tussen die rekeninge, sms'e en kennisgewings wat uitgereik word.
“Inwoners se dienste word na wille keur afgesny en die afsny- en heraansluitingsfooie word ook nie altyd op die sisteme reggestel nie. Volgens inwoners word hulle deur Mogale City geboelie want hulle weet nooit wanneer dienste weer afgesny gaan word of wanneer hulle dreigbriewe gaan ontvang nie”.
De Lange meen sy het sedert verlede jaar verskeie versoeke aan Mogale City se finansiële kantoor gerig dat 'n taakspan aangestel word wat slegs probleme hanteer. Hulle moet ook langer ure werk en Saterdagoggend beskikbaar wees. Dit gee werkende inwoners die geleentheid om hulle foutiewe rekeninge reg te stel.
Mogale City is egter nie hiervoor te vinde nie, sê de Lange. "Ek glo dit is omdat Mogale City besef dit is 'n vrugtelose oefening solank die stadsraad twee betaalsisteme gelyktydig probeer bedryf en dus nie enige waarborge kan gee met betrekking tot die integriteit van die inligting van maand tot maand nie.
“Vandat Mogale City se munisipale bestuurder, mnr. Mashitisho en die bedryfshoof, mnr. Mbulwa aangekondig het dat die BIQ-sisteem vervang moet word, het die kostes aan hofsake en lisensiegelde ongeveer R20 miljoen beloop. Die Comperio-sisteem wat vir R23 miljoen aangekoop is maar nooit gewerk het nie en die LIMMS-sisteem wat Comperio en BIQ moet vervang, het tot dusver omtrent R65 miljoen gekos. Dit beteken belastingbetalers in Mogale City is verantwoordelik vir meer as R100 miljoen se vrugtelose en verkwiste uitgawes deur die munisipale bestuur terwyl die BIQ sonder enige probleme die nodige dienste verrig het.
Die Vryheidsfront Plus is in die proses om dié kwessie van wanbestuur teen die betrokke amptenare by die Openbare Beskermer te registreer. "Dit is belastingbetalers se reg om die betrokke amptenare te ontbloot vir enige wanpraktyke en nalatige finansiële bestuur" sê sy.
Kontak : 071 604 9498