Limpopo se jongste misdaadstatistiek vir die derde kwartaal van 2022/2023 is teleurstellend.
Die polisie, onder leiding van die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Thembi Hadebe, faal in sy doel om gemeenskappe te beveilig.
Die VF Plus het tot op hede geen reaksie of terugvoer ontvang op sy skrywe aan Hadeba rakende die 148 onopgeloste diefstalsake in die Mara-, Alldays-, Mogwadi- en Waterpoort-omgewing in Limpopo vanaf Januarie 2022 tot Desember 2022 nie.
Die party het die kommissaris versoek om dringend met die stasiebevelvoerders van die onderskeie polisiekantore te vergader om die tekort aan mannekrag en voertuie op te los.
Wat veral kommer wek, is die feit dat die polisie se eie pogings om misdaad te bekamp, duidelik nie werk nie.
Dit blyk uit die volgende misdaadsyfers (teenoor die vorige kwartaal):
• Totale kontakmisdade: 12 297 (10 175)
• Totale kontakverwante misdade: 2196 (2 115)
• Totale eiendomsverwante misdade: 6 348 (6 145)
• Totaal ander ernstige misdade: 7 271 (6 751)
Die statistiek dien ook as bewys dat die polisie se misdaadintelligensie onfunksioneel is.
Dit is duidelik dat ingryping dringend nodig is by die provinsie se polisiekantore, maar die VF Plus twyfel of Hadebe slapelose nagte daaroor het.