fbpx
Vryheidsfront Plus

Gautengse provinsiale openingsrede: Lesufi plaas versiersuiker op ‘n vrot koek met onvanpaste bestedingsplanne om ANC in Gauteng te red

Die VF Plus beskou die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, se planne in sy Gautengse provinsiale rede vir 2023 as versiersuiker op 'n vrot koek wat nie die wortel van die provinsie se probleme aanspreek nie.

Teen die agtergrond van 'n ekonomie wat reeds teen die toue is, het Lesufi talle planne aangekondig wat groot besteding van belastingfondse impliseer.

Daarby is die besteding onvanpas aangesien daar nie enige beplanning bestaan vir die ekonomiese ontwikkeling van die hele provinsie teen die agtergrond van Eskom wat nie die nodige krag aan Gauteng kan verskaf nie.

Dit is duidelik dat Lesufi se planne daarop gerig is om soveel te bestee as wat nodig is om die ANC te red van ‘n inploffing tydens die 2024-verkiesing.

Lesufi het sy toespraak begin met ‘n fokus op ‘n gebeurtenis tydens apartheid voordat hy losgetrek het met sy beloftes om lekkers vir sy kiesers uit te deel.

Dit beteken sy aanslag vir die 2024-verkiesing gaan wees om soos altyd te fokus op ras en vals rassevoorvalle soos die Jan Viljoen Hoërskool-geval om solidariteit op te wek op emosionele vlak en die besteding van fondse wat hy nie het nie om stemme te koop.

Lesufi het planne aangekondig vir misdaadbekamping, township-ontwikkeling, basiese onderwys en het weer gespog oor die afskaffing van die e-tolstelsel wat ironies genoeg steeds aktief is.

Hy het gerieflikheidshalwe nie aangedui waar die fondse vandaan sal kom vir die projekte nie.

Verder gaan die planne mank aan ‘n holistiese ekonomiese plan wat 'n verskeidenheid van die provinsie se probleme met een slag kan aanspreek.

Misdaad en maatskaplike verval hou onder meer verband met werkloosheid en armoede. Indien die ekonomie werksgeleenthede skep, sal mense nie hoef te oorleef deur misdaad nie en sal baie maatskaplike probleme gebore uit armoede ook verdwyn.

Lesufi fokus ten regte op die ontwikkeling van die townships se ekonomieë, iets wat die VF Plus al lankal versoek het.

Dit word egter gedoen ter uitsluiting van steun aan ondernemings in ander gebiede wat ook bloei weens die gebroke ekonomie wat die ANC geskep het en die effek van die onnodige lang grendelstaat wat die ANC ingestel het.

Dit is daarom duidelik dat Lesufi ‘n premier net vir sekere gemeenskappe is en nie vir die hele provinsie nie.

Die premier se idees om misdaad te bekamp met tegnologie soos gesigsherkenning-kameras en hommeltuie is ‘n fantasie aangesien die strafregstelsel wanfunksioneel is weens swak ‘n polisiediens en korrupsie.

Die premier wil ook graag sien dat Gauteng ‘n kontantlose gemeenskap word wat misdaad kan verminder.

Dit laat ‘n mens wonder of Lesufi kers gaan opsteek het by China wat ‘n tegnokratiese sekurokrasie geword het deur middel van elektroniese monitering- en kontantlose stelsels.

Hierdie soort mag onder Lesufi se beheer laat die rooi ligte flikker en is nog ‘n belangrike rede om die ANC in 2024 in Gauteng te ontsetel.

Lesufi se poging om eie krag vir Gauteng op te wek is interessant, maar die vraag is of dit genoeg en betyds is.

Eskom reeds soveel skade aangerig met beurtkrag dat die uitrol van die plan om R1,2 miljard aan nuwe kragprojekte te bestee, waarskynlik gepootjie sal word deur die normale praktyk van korrupsie en swak dienslewering.

In wese is Lesufi se planne ernstig gebrekkig.

Daar is geen salf te smeer aan die ANC in Gauteng nie. Lesufi en die ANC moet in 2024 vervang word met ‘n koalisie van partye waarvan die VF Plus die sentrum vorm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Mark Surgeon

Tshwane-metro minag Strukturewet

Die Tshwane-metroraad het gister tydens ʼn raadsvergadering die Munisipale Strukturewet geminag deur ʼn verslag wat handel oor ʼn ANC-raadslid wat ses agtereenvolgende raadsvergaderings nie bygewoon

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.