fbpx
Vryheidsfront Plus

Misdaadplan ontbloot polisie se gebreke

Die VF Plus verwelkom die misdaadplan soos vandag bekend gemaak deur die minister van polisie, Bheki Cele, en die nasionale kommissaris, genl. Khehla Sitole, aangesien die plan van die ernstige gebreke wat in die polisie bestaan, duidelik ontbloot.

Die erkenning dat misdaadintelligensie vir sowat ses jaar disfunksioneel was, is ‘n ernstige aanklag teenoor vorige kommissarisse- en ministers van polisie.

Dit het eers ‘n ernstige vlaag transito-rooftogte soos tans gekos om te besef dat georganiseerde misdaad net effektief bestry kan word met beter misdaadintelligensie deur die misdadige groepe binne te dring.

Die erkenning van korrupsie in die polisie moet daadwerklik aangespreek word anders is die misdaadplan gedoem tot mislukking.

Die VF Plus verwelkom veral die besluit om sigbare polisiëring te verhoog. Die 2010-Sokkerwêreldbeker-toernooi in Suid-Afrika het gewys dat behoorlike sigbare polisiëring ‘n beduidende afname in misdaad tot gevolg gehad het.

Die besluit om offisiere beter op te lei is in werklikheid ‘n klad op die naam van die polisie aangesien dit effektiewelik ‘n erkenning is dat hulle voorheen nie voldoende opgelei was vir hul taak nie.

Die beter aanwending van die polisie se taktiese afdeling tesame met beter skietopleiding vir alle lede sal gewis ‘n bydrae lewer om misdaad beter te bestry.

Die spesiale fokus op motorkapings, rooftogte, en veral rooftogte by woonhuise moes lankal gebeur het aangesien dit deel vorm van die trio-misdade. Veral rooftogte by woonhuise is die misdaad wat die publiek die meeste vrees. (Die derde van die trio is rooftogte elders as in woonhuise.)

Dit is wel jammer dat plaasmoorde nie ook deel van hierdie fokus is nie, maar die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, sal dit persoonlik met die minister opneem.

Dit was opmerklik dat genl. Sitole kamoefleerdrag aangehad het tydens die mediakonferensie. Dit kan die indruk wek dat die polisie meer gemilitariseer raak, wat nie bevorderlik is vir die beeld van die polisie nie.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.