Die VF Plus-jeug in Gauteng verwerp die Universiteit van Pretoria (UP) se planne om Afrikaanse koshuisname op die kampus te verwyder.
Hierdie naamsverandering van die UP kan vertolk word as net nog ‘n poging om Afrikaans te marginaliseer en ook om die aggressiewe jeugbewegings van die ANC en die EFF tevrede te hou en so ‘n valse “vrede” te bewaar.
Volgens Rikus Delport, woordvoerder van die universiteit, is hierdie veranderinge nie teen Afrikaans gemik nie, maar ‘n poging om skanse af te breek wat wedersydse aanvaarding bevorder en ook ‘n poging om meer inklusief te wees.
Die universiteit se manskoshuise is na boomspesies vernoem en die dameskoshuise na blomspesies en niemand word hierdeur uitgesluit nie. Dit is voor die hand liggend dat die teiken hier nie bome en blomme is nie, maar wel Afrikaans in sy geheel.
Hoe kan die UP beweer hul poog om ‘n inklusiewe omgewing vir almal te skep as hul antwoord is om net Afrikaans, trotse a-politiese name en die trotse kultuur en alumni wat hierdie koshuise oor die afgelope 110 jaar opgelewer het uit te sluit?
Die antwoord op ‘n inklusiewe studente-omgewing is nie om net Afrikaans uit te sluit nie. Die VF Plus-jeug in Gauteng ondersteun die idee dat koshuise meer as een naam mag hê.
Die antwoord lê daarin om eerder by te voeg as weg te neem. Die UP se bevordering van inklusiwiteit deur Afrikaans te marginaliseer sal net verdere verdeeldheid tussen studente veroorsaak.
Kontaknommer: 079 224 7321