fbpx
Vryheidsfront Plus

Ministers se minagting van parlementêre vrae is minagting van aanspreeklikheid

Die antwoord wat adjunk-president David Mabuza vandag gegee het oor ANC-ministers se minagting van amptelike parlementêre vrae, is ‘n aanduiding van die ANC-regering se minagting van aanspreeklikheid.

Die VF Plus het aan die adj.-pres. gevra waarom 172 amptelike vrae van die onderskeie partye tydens die 2020-jaarsesssie glad nie beantwoord is nie en of hy tevrede is met die vlak van aanspreeklikheid wat dit teenoor die land se uitvoerende gesag skep.

Die adj.-pres. het die vinger probeer terugwys na politieke partye en het onder meer gesê ministers is nie veronderstel om baie van die vrae te beantwoord nie. Dié antwoord is nie aanvaarbaar nie en is ‘n tipiese voorbeeld oor hoe ministers ook vrae ontduik.

Daar is duidelik ‘n snel-toenemende tendens onder talle ministers om amptelike vrae te probeer omseil deur vaag en ontwykend te antwoord. Dit beteken dat die vraag wel as beantwoord aangeteken word, terwyl dit in werklikheid nie beantwoord is nie.

Die VF Plus is bekommerd hieroor aangesien amptelike vrae die enigste wyse is waarop parlementslede die uitvoerende gesag of regering aanspreeklik kan hou vir wat in die land gebeur.

Dit is ‘n metode om ongerymdhede onder die ministers se aandag te bring en om oplossing vir probleme te vind.

Dit is daarom duidelik dat die ANC-ministers minagtend optree teen die wetlike parlementêre prosesse en geen erg het aan verantwoording nie wat niks anders is nie as ‘n poging om aanspreeklikheid te probeer ontduik.

Die VF Plus sal dit nie daar laat nie en sal bestaande parlementêre kanale gebruik om toenemende druk op die regering te plaas om volledig en deeglik te antwoord op formele parlementêre vrae.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.