Berigte wat verskyn het oor psigiatriese pasiënte wat tans by die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg in enige kamer en beskikbare hoek ingebondel word en tot sewe dae lank op ‘n bed moet wag, is uiters kommerwekkend.
Hierdie situasie het ontstaan vanweë die feit dat die Charlotte Maxeke-hospitaal, wat ‘n jaar gelede gesluit is en op 14 Maart vanjaar moes heropen om die las op nabygeleë hospitale te verlig, nie gaan heropen soos beplan nie.
Die diefstal van elektriese kabels en elektriese verdeelborde in die hospitaal het die beplande opening in die wiele gery.
Die gesondheidstelsel kan nie bekostig dat ‘n enkele hospitaal in Gauteng nie ten volle operasioneel is nie.
Dit plaas ook ‘n bykomende las op al die ander hospitale in die provinsie met miljoene mense wat bedien moet word.
Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, sal dringend by die voortslepende Charlotte Maxeke-krisis moet ingryp aangesien die provinsiale departement van gesondheid nie die mas opkom nie.
Dit is duidelik dat ander hospitale soos Helen Joseph nie die volgehoue druk kan hanteer nie en dat die sluiting van Charlotte Maxeke se ongevalle-afdeling en psigiatriese eenhede druk plaas op die psigiatriese eenheid by Helen Joseph.
Die VF Plus waarsku nou reeds dat daar dringend opgetree moet word om ‘n volgende Life Esidimeni-tragedie, soos wat in 2016 plaasgevind het toe 144 pasiënte gesterf het weens verwaarlosing, dehidrasie en honger, te vermy.
Dit is ‘n wesenlike moontlikheid indien die minister nie spoedig ingryp om die krisis op te los nie.