Die nuut aangestelde minister van vervoer, Fikile Mbalula, sal dringend ‘n plan moet beraam om die departement van vervoer reg te ruk wat onder verskeie ernstige probleme gebuk gaan.
Die groot voorkoms van padongelukke regdeur die land is onaanvaarbaar. Daar sal indringend ondersoek ingestel moet word na die oorsaak hiervan beginnende by die uitreik van padwaardigheidsertifikate en die lisensiërings van voertuie om ongeldige voertuie van die pad te hou.
Die fout moet nie net by die bestuurders van voertuie gesoek word nie, maar verskeie aspekte binne in die departement self moet ook ondersoek word.
Daar sal ook gekyk moet word na die effek wat die e-natis stelsel op aansoeke van bestuurderslisensie-afsprake het aangesien hierdie stelsel dit vir padgebruikers moeilik maak om afsprake te maak. Die stelsel word oorval van versoeke vir afsprake en kan duidelik nie die groot aanvraag hanteer nie.
Die VF Plus sal wil sien dat die stelsel vir afsprake weer inwerking gestel word by die toepaslike munisipale toetssentrums en nie net op die aanlynstelsel nie.
Padwaardigheid-toetssentrums onder private, provinsiale en munisipale beheer, sal gereeld deur bekwame en opgeleide inspekteurs besoek moet word om te verhinder dat sertifikate uitgereik word vir voertuie wat nie die toetsgronde besoek nie en strenger maatreëls moet in plek gestel word om oortreders vas te vat.
Verdere maatreëls kan in plek gestel word sodat lisensiekantore, met die ontvangs van ‘n padwaardigheidsertifikaat, fotomateriaal kan vereis vanaf die toetsgronde wat die sertifikaat uitgereik het, om te bevestig of die betrokke voertuig wel by die betrokke toetsstasie was. Dit kan bydra tot die bekamping van die uitreiking van vals sertifikate.
Lisensiekantore se hoofde en hul ondersteunende senior personeel moet ook op ‘n gereelde basis aansoekdokumente wat deur ‘n amptenaar ontvang en verwerk word, oudit om toe te sien of die vereiste dokumente wel deur die amptenaar ontvang is en indien dokumentasie nie bestaan nie of ontbreek, moet daar teen die betrokke amptenaar opgetree word aangesien sulke optrede ‘n oortreding van die Nasionale Padverkeerswet is.
Die VF Plus sal ook wil sien dat daar opgetree word teen staatsinstellings, private maatskappye en lede van die taxi-industrie wat die Padverkeerswet minag deur nie jaarliks hul openbare bestuurspermitte te hernu nie en swaarvoertuie nie jaarliks stuur vir ‘n padwaardigheidtoets met die hernuwing van lisensies nie.
In baie gevalle word nommerplate en lisensieskyfies vir meer as een voertuig gebruik. Dit gebeur selfs dat staatsvoertuie se lisensies nie altyd op datum is nie.
Die VF Plus sal namens alle wetsgehoorsame mense druk plaas op die departement van vervoer sodat almal oor dieselfde kam geskeer word en die wet toegepas, uitgevoer en gehoorsaam word deur almal wat die land se paaie gebruik.
Kontakbesonderhede: 060 556 4347


