Pogings van die owerheid vir padverkeers-oortredings (RTIA) om vure dood te slaan rondom sy probleme met die uitstuur van verkeersboetes, het nou tot groter verwarring gelei aangesien die liggaam en die minister mekaar oor die kwessie weerspreek sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
RTIA se uitsprake dat boetes steeds geldig is al word dit nie korrek afgelewer nie, verskil lynreg met ‘n antwoord wat die minister van vervoer reeds in 2012 op ‘n geskrewe vraag van adv. Alberts oor die aangeleentheid gegee het.
In sy antwoord het die minister gesê die wet maak dit baie duidelik dat boetes per geregistreerde pos of per hand afgelewer moet word.
Ook oor waarom boetes hierdie jaar nog nie uitgestuur is nie, verskil RTIA wesenlik van die minister. In antwoord op ‘n geskrewe vraag van die VF Plus het die minister nou gesê die poskantoor voldoen nie aan ‘vereistes waarvolgens Aarto-kennisgewings (boetes) bedien moet word nie’ en dat die kennisgewings nie binne die vereiste tydperk afgelewer is nie.
Om hierdie rede is geen boete sedert 1 Januarie vanjaar afgelewer nie, lui die minister se antwoord.
In teenstelling hiermee sê RTIA dat kennisgewings nie afgelewer is nie weens ‘n dispuut aangaande RTIA se rekening by die poskantoor. Die VF Plus se inligting is dat die poskantoor hul diens weens wanbetaling gestaak het.
Adv. Alberts sê RTIA se weerspreking van die minister oor hierdie belangrike kwessies maak dit duidelik dat sy huis nie in orde is nie en dat daar ‘n poging is om die publiek te mislei oor boetes wat op ‘n onwettige wyse afgelewer word.
“Iewers is iemand oneerlik. Dit beteken die stelsel se probleme raak net erger. Aarto sal nooit in Suid-Afrika werk nie en die regering mislei homself as hy dink die stelsel sal ooit sy doelwit van veilige paaie bereik.
“Net so sal e-tolboetes ook nooit enigiemand bereik nie en sal dit ongeldig wees. Sanral se probleme gaan net vererger deur die hoop om die betaling van sy rekeninge aan Aarto te haak. Dit is duidelik dat Aarto ‘n mislukking is,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403