Al het die Gautengse ANC-regering sy stem gevoeg by dié wat ontslae wil raak van Jacob Zuma as staatspresident van Suid-Afrika, verander dit niks aan die feit dat dié regering die een is wat waarskynlik die meeste diskrimineer teen Afrikaans en minderhede in Suid-Afrika.
Adv. Anton Alberts, LP en Gautengse leier van die VF Plus en mnr. Philip van Staden, LPW vir Gauteng, sê die pogings van die provinsiale onderwysminister, Panyaza Lesufi, om Afrikaanse skole teen alle koste te verengels om sodoende hul Afrikaanse karakter te vernietig, is wel bekend.
‘n Goeie voorbeeld is wat gebeur het by die Roodepoort Primary School in Davidsonville, waar ‘n Engelsgesinde pro-ANC-skoolhoof aangestel is en wie se optrede tot groot ontevredenheid in die gemeenskap gelei het.
Die provinsie gaan ook voort om Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) tot “op die letter” af te dwing terwyl die provinsie geweldige baat kon vind indien die sterk wit middelklas in die provinsie ten volle by die ekonomie betrek sou word.
Volgens adv. Alberts en mnr. Van Staden, is dit onsinnig om nie mense ten volle te betrek wat ‘n groot bydrae kan lewer tot die welvaart in die provinsie nie.
“Dit wil byna voorkom of die ANC vyandskap verklaar het met die groter wit en bruin gemeenskap van die provinsie.
“Dit wil ook voorkom of die ANC doelbewus wrywing tussen gemeenskappe wil veroorsaak soos die ontwikkeling van Soweto tot die straat reg teenaan die tradisioneel bruin woongebied Eldoradopark aantoon. Ook hieroor bestaan groot ongelukkigheid onder die inwoners.
“Die wrywing word aangeblaas deur die feit dat swart inwoners van die omgewing veel gouer gehelp word om op behuisingslyste geplaas te word bo bruin inwoners wat al sedert 1994 onsuksesvol wag om gehelp te word en wat met sinkbousels tevrede moet wees.
“Die ANC is met hierdie optrede besig om groot afstand tussen homself en die minderheidsgemeenskappe van Gauteng te plaas en die party sal dit voel in die plaaslike verkiesing waar sy steun tot onder 50% kan daal wat koalisievorming tussen opposisiepartye ‘n groot moontlikheid maak.
“Die gewraakte e-tolstelsel het die Gautengse regering ook groot skade aangedoen aangesien die oorgrote meerderheid van die provinsie se inwoners sterk daarteen gekant is.
“Dit is binne die Gautengse regering se vermoë om ‘n dispuut hieroor te verklaar met die nasionale regering en selfs hof toe te gaan, maar hy doen dit nie.
“Enkele geluide is teen die stelsel gemaak en ‘n paneel is aangestel om klagtes aan te hoor, maar dit is duidelik net vir politieke skyn,” sê adv. Alberts en mnr. Van Staden.
082 391 3117 / 084 015 4722