Dit is omdat die munisipale bestuur raadsbesluite minag dat ons weer in ‘n elektrisiteitskrisis, soos in Desember 2016, gedompel is, sê Jeanie Hattingh, VF Plus-raadslid in die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit (Kroonstad, Viljoenskroon, Steynsrus).
Volgens Hattingh het die munisipale raad reeds in Mei 2010 ‘n besluit geneem dat alle inkomstes uit elektrisiteitsverkope slegs vir betaling aan Eskom aangewend mag word.
“Dit het egter nie gebeur nie en dreig Eskom weereens om beurtkrag in die munisipaliteit toe te pas.
“Die raad het ook in Januarie 2017 ‘n afbetalingsplan goedgekeur wat ‘n soortgelyke situasie soos wat in Desember 2016 weens die munisipaliteit se wanbetaling aan Eskom ontstaan het, te voorkom. Ook hierdie besluit is geminag deur die huidige munisipale bestuur en is die afbetalingsooreenkoms nie deur die munisipaliteit nagekom nie.
“Die VF Plus dring daarop aan dat die minagting van raadsbesluite oor die aanwending van inkomste uit elektrisiteitsverkope in ag geneem moet word tydens die munisipale openbare regeringskomitee se artikel 32 ondersoek in die verband.
“Ons sal eis dat alle rente en boetes wat as gevolg daarvan opgeloop het as vrugtelose en verkwiste uitgawes geklassifiseer word en van die munisipale bestuurder as rekenpligtige amptenaar wat daarvoor verantwoordelik is persoonlik verhaal word.
“Eskom het Maandag amptelik kennis gegee dat beurtkrag vanaf 27 September geïmplementeer sal word weens nie-nakoming van die afbetalingsooreenkoms. Moqhaka skuld meer R200 miljoen aan Eskom.
“As die munisipale bestuurder, as rekenpligtige amptenaar van die munisipaliteit, die raadsbesluit toegepas het, sou die munisipaliteit nie nou soveel aan Eskom geskuld het nie en sou ons nie in hierdie situasie gewees het waar Eskom dreig om die munisipaliteit se elektrisiteit af te sny nie.
“Die gemeenskap van Moqhaka moet nou weereens onder die ANC-regering se onbevoegdheid ly,” sê Hattingh.
Kontakbesonderhede: 083 406 8714 / 082 674 6670