Daar is geen beter voorbeeld van die ANC se nalatenskap as die Vrystaatse munisipaliteite nie, sê Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse wetgewer.
Wessels het in ‘n ledeverklaring in die wetgewer gesê dat die ANC eens ‘n magtige vryheidsbeweging was wat die hemel en aarde aan sy ondersteuners belowe het, maar nou soos ‘n gewonde dier spartel om te red wat hy kan na hy in die bestek van 23 jaar die land se ekonomie, hulpbronne, infrastruktuur en instellings rot en kaal besteel en in die grond in regeer het.
Die Vrystaatse munisipaliteite skuld etlike miljarde aan Eskom. Eskom dreig om, soos in Desember 2016, beurtkrag toe te pas weens die munisipaliteite se wanbetaling.
Afbetalingsooreenkomste word nie nagekom nie en inkomste wat uit elektrisiteitsverkope gegenereer word, word elders bestee.
Eskom het reeds Maandag formeel kennis van moontlike beurtkrag aan verskeie Vrystaatse munisipaliteite gegee. Die munisipaliteite is Moqhaka (Kroonstad, Steynsrus, Viljoenskroon, Vierfontein), Masilonyana (Theunissen, Winburg, Brandfort, Verkeerdevlei), Nketoana (Reitz, Petrus Steyn, Lindley, Arlington), Dihlabeng (Bethlehem, Paul Roux, Rosendal, Fouriesburg, Clarens), Nala (Wesselsbron, Bothaville), Mantsopa (Ladybrand) en Tokologo (Dealesville).
“Die ANC-regering bestee geld aan luukshede, soos Kersfeesliggies en naamborde in plaas daarvan om betalings aan Eskom en ander krediteure te prioritiseer.
“Betalende verbruikers ly dus hoofsaaklik onder hierdie wanbestuur.
“Stinkende riool loop in byna elke dorp in elke munisipaliteit in die Vrystaat iewers uit, omdat die ANC-beheerde munisipaliteite nooit die infrastruktuur behoorlik onderhou en uitgebou het nie.
“Riool loop vrylik in die Wilgerivier by Frankfort in die Mafube-plaaslike munisipaliteit in omdat die infrastruktuur nie in stand gehou word nie.
“Die Wilgerivier voed die Vaaldam wat op sy beurt Rand Water se grootste waterbron is en feitlik die hele Gauteng en dele van die Vrystaat van water voorsien.
“Miljoene mense se waterbron word dus met rou riool besmet omdat die munisipale bestuur nie hul werk behoorlik doen nie.
“Die ANC het gegaan van ‘n magtige revolusionêre beweging na ‘n bende van korrupte en geldgierige diewe wat wegkruip agter bangmaakstories oor witmense om hul eie oneerlikheid te verbloem.
“Terwyl die ANC steel, ly die mense van die Vrystaat. Hulle behoort hulself te skaam,” sê Wessels.
Kontakbesonderhede: 082 674 6670


