Die VF Plus is in gesprek met die waarnemende munisipale bestuurder, Lerato Peu en die burgemeester, Maphefo Letsie, van die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) oor stakende werkers wat vullisverwydering die afgelope twaalf dae lamlê.
Die stakende werkers vorm deel van die nasionale armoede-verligtingsprojek of uitgebreide openbare-werkeprogram (EPWP) wie se kontrakte slegs vir een jaar geldig is en intussen verval het.
Dié werkers dring daarop aan dat hul dienskontrakte hernu word alvorens enige vullisverwydering geskied. ‘n Groot groep verhinder tans vullisverwyderings-trokke om uit die munisipale terrein te beweeg.
Intussen maak inwoners, wat ten duurste vir dienslewering betaal, gebruik van private persone om teen betaling hul vullisblikke leeg te maak. Weens die onveiligheid by die vullisterreine, kan inwoners nie self hul vullis verwyder nie.
Hierdie is weereens ‘n bewys dat die ANC-beheerde munisipaliteit nie in staat is om vooruit te beplan en die nodige maatreëls in plek te stel om dienslewering vlot te laat verloop nie.
Die VF Plus sal aanhou druk plaas op die munisipaliteit om ‘n besluit te neem oor die tydelike werkers se kontrakte sodat dienslewering kan voortgaan.
Navrae: 082 671 2302