Die Menseregtekommissie (MRK) gaan die onlangse uitlatings van pres. Jacob Zuma oor Jan van Riebeeck ondersoek na ‘n klag van die VF Plus wat aanvoer dat dit op haatspraak teenoor wit mense neerkom, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.
Pres. Zuma het luidens mediaberigte onder meer gesê die land se probleme het begin met die aankoms van Jan van Riebeeck in Suid-Afrika, en wat daarop gevolg het was “talle stryde en oorloë en sterftes en die gryp van grond en die ontneming van die inheemse mense se politieke en ekonomiese mag”.
Adv. Alberts het in sy klag aan die MRK aangevoer die VF Plus is van mening dat die uitsprake op rassebasis polariserend is en grof beledigend teenoor alle wit mense in die land is.
Hy sê dit is onpresidensieel om sulke uitlatings te maak in ‘n land wat divers is en waar die staatshoof oor almal regeer. Die gewraakte uitlatings kom op haatspraak neer omdat wit mense die sondebok gemaak word vir alles wat in die land verkeerd geloop het sedert 1652.
“Die feit dat die MRK besluit het om die saak te ondersoek, dui daarop dat dié liggaam meen daar is meriete in die klagte. Die uitlatings kan boonop geskiedkundig betwis word en daar kan met reg gevra word of dit die amptelike siening van die ANC is.
“Die Menseregtekommissie moet die ANC hieroor konfronteer om vas te stel of die regering vyandskap verklaar het teenoor alle witmense.
Adv. Alberts het benadruk dat die VF Plus die klag nie net namens wit mense indien nie, maar namens alle gemeenskappe in Suid-Afrika wat graag in vrede wil saamleef en vooruitgaan.
Hy sê dié soort uitsprake is hoogs verdelend en kan veroorsaak dat nie net wit mense in die toekoms geteiken word nie, maat almal wat wit bloed in hulle are het, soos die bruin gemeenskap asook sekere dele van die Khoisan-gemeenskap wat trouens die eerste mense in Suid-Afrika was.
“Indien die ANC sou voortgaan op hierdie pad, kan ons begroot vir konflik in die toekoms en sal verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika uiteindelik geen keuse hê as om hulself te verdedig deur ‘n vorm van remediërende selfbeskikking op te eis nie.
“Dit sal hoogs ironies wees as die ANC self eindelik die oorsaak word van ‘n hoogs verdeelde Suid-Afrika. Hierdie klag is juis daarop gerig om die ANC hieroor te konfronteer,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403