Menseregtedag herinner die mense van Suid-Afrika daaraan dat almal in die land se menseregte gerespekteer moet word ongeag ras, geslag, geloof, ouderdom, taal of kultuur. Dit is belangrik dat almal dit besef en uitleef.
Daar kan nie sprake van menseregte wees wanneer een groep ‘n ander probeer oorheers nie.
Net so tref die koronavirus nie onderskeid tussen mense wat daardeur geraak word nie. Enigiemand kan die infeksie opdoen, ongeag wie of wat jy is.
Almal in die land staan nou saam in die aangesig van die pandemie, en so moet die besef ook vaardig raak dat indien almal mekaar se regte respekteer en hul verskille opsy skuif, Suid-Afrika ‘n wennasie kan word.
Soos met korona, kan daar nie wat menseregte en menseverhoudinge in die land aanbetref, gewag word tot daar eers ‘n krisis ontstaan nie. Almal in die land moet elke dag werk daaraan om mekaar se regte ten volle te respekteer.
Hierin moet die Menseregtekommissie van Suid-Afrika (MRK) ‘n leidende rol speel. Die MRK het as nasionale instituut die mandaat en verantwoordelikheid om alle Suid-Afrikaners se respek, en die nakoming en beskerming van hul menseregte, sonder vrees of vooroordeel te verseker.
Die MRK het egter hierin gefaal en sy geloofwaardigheid is onder verdenking, veral ná die Eben Etzebeth-geval.
Dit is veral die wit en bruin jeug as deel van minderheidsgroepe waarteen gediskrimineer word met Regstellende Aksie (RA) soos onder meer gesien word by die toekenning van studiebeurse.
Wette soos hierdie is niks anders nie as die aantasting van hierdie jeug se menseregte en dit moet gestaak word deur RA en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) te skrap.
Die VF Plus doen daarom vandag opnuut ‘n beroep op die regering om te besin oor die rasdiskriminerende wette en op elke persoon in die land om oor wedersydse respek te besin en na mekaar uit te reik.
Wanneer mense, en veral minderhede se regte geminag word, kan die gevolge daarvan ook vernietigend wees vir die land.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216