‘n Omvattende meningspeiling wat die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) oor Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) laat doen het, wys dat dit ‘n mislukking is en dat die oorgrote meerderheid van alle Suid-Afrikaners sterk daarteen gekant is.
Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, sê die uitslag van die peiling bevestig die standpunt van die VF Plus dat SEB nadelig is vir die ekonomie en dat dit werkloosheid en verarming aan die hand werk terwyl net ‘n paar kaders bevoordeel word.
Die IRR het die peiling verlede jaar laat doen deur die maatskappy MarkData wat dertig jaar ondervinding op dié gebied het. Altesame 2 245 mense wat in alle opsigte verteenwoordigend van Suid-Afrika se bevolking is, het deelgeneem. Die uitslag is pas bekend gemaak.
Hieruit blyk dit dat 85% van die mense sê hulle is geensins deur SEB bevoordeel nie, terwyl 87% sê meriete moet die bepalende faktor in die arbeidsmark wees. Eweneens sê 78% beter opvoeding en die skep van meer werkgeleenthede sal eerder ekonomiese ongelykhede regstel.
Ook insiggewend is dat slegs 6% meen dat demografie ‘n rol moet speel in werkgeleenthede.
Volgens adv. Alberts staan dié bevinding in skrille kontras met die onlangse uitlatings van adjunkpresident Cyril Ramaphosa wat gesê het die ANC gaan sy beleid oor transformasie verskerp “ongeag wat die kritici daaroor sê”.
“Net soos met die ANC se onversetlike verdediging van ‘n beskimmelde en beskaamde man as president, is hierdie ‘n klinkklare bewys dat die ANC-leierskap totaal uit voeling met die werklikheid is en geensins ag slaan op die mening van die publiek nie.
“Boonop het die Grondwethof reeds bevind dat wetgewing wat nie rasioneel gekoppel is aan ‘n uitkoms nie, ongrondwetlik is.
“Die SEB-wetgewing is daarom juis irrasioneel omdat dit geensins geslaag het in die skep van werk en vermindering van armoede nie. Hierdie navorsing is die bewys daarvoor,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403