Die minister van Polisie, Nkosinathi Nhleko, het erken meer vuurwapens word gesteel as wat daar verlore raak. Hy het geantwoord op ’n vraag van Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus in die parlement. In die vorige finansiële jaar (2013/14) het individuele (private) vuurwapeneienaars 233 vuurwapens verloor, terwyl 5 194 vuurwapens van hulle gesteel is. Staatsinstellings (Polisie, SANW ens.) het in dieselfde tydperk 199 verloor en 1 769 is gesteel. By sekuriteitsmaatskappye het 41 verlore geraak en 796 is gesteel.
“As in ag geneem word dat daar ongeveer drie miljoen (2 989 705) vuurwapens deur individue besit word en 233 verlore geraak het, is dit 0,007 % wat verlore geraak het. Daar kan dus gesê word dat daar met 0,007% wettige vuurwapens nalatigheid was.
“Die minister van Polisie, en selfs president Zuma, se uitsprake dat daar te veel private vuurwapeneienaars is en dit geweldsmisdaad in die land bevorder, is dus totaal onwaar en bewys hulle onkunde en oningeligtheid oor private vuurwapenbesit.
“Die probleem van misdaad en vuurwapens moet gevind word in die onwettige vuurwapens wat in die land is. Gun Free SA beraam dat daar tot vier miljoen onwettige vuurwapens in Suid-Afrika kan wees. Misdadigers verkies die gebruik van onwettige vuurwapens omdat dit moeilik is om dit na te speur.
“Indien die minister en Polisie meer fokus op onwettige vuurwapens en ophou om wettige vuurwapeneienaars te teiken as die sondebokke wat geweldsmisdaad bevorder, sal geweldsmisdaad meer effektief beveg kan word,” sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir Polisie van die Vryheidsfront Plus.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403