Die voorval die afgelope naweek waarin die 22-jarige Wynand Cillié grusaam onder ‘n weghol-vragmotor aan die voet van Sir Lowry’s Pas gesterf het, het opnuut daartoe gelei dat die VF Plus daarop aangedring het dat ‘n gruisput langs die pad aangebring word.
Die ongeluk by die eerste verkeerslig by die ingang na Somerset-Wes was die jongste van vele soortgelyke ongelukke op die plek en het weerklank gevind in die raadsaal van die Stad Kaapstad toe mnr. André Fourie, VF Plus-raadslid, dit onder die burgemeester se aandag gebring het.
Nadat die burgemeester gevra het vir ‘n oomblik van stilte vir drie kinders wat onlangs tragies verdrink het, het mnr. Fourie haar gevra of sy bewus is van die ongeluk waarin Cillié dood is. Sy pa, Wynand Cillié sr. is hoof van die Laerskool De Hoop in Somerset-Wes.
Volgens mnr. Fourie is die owerhede verskeie kere genader nadat die kruising by die robot sewe jaar gelede opgegradeer is met die versoek om ‘n gruisput te bou om weghol-swaarvoertuie te stop.
“Die versoek is van bakboord na stierboord tussen die Stad Kaapstad, die Wes-Kaapse Provinsie en Sanral gestuur. Dit het soveel keer gebeur dat ek die owerhede kennis gegee het dat ek hulle verantwoordelik sal hou vir enige verdere sulke tragedies. Nou het dit weer ‘n lewe geëis.
“Die druk is volgehou met ‘n mosie op die agenda van die Helderberg-subraad wat nou al jare uitstaande is,” sê mnr. Fourie.
Volgens mnr. Fourie het hy by die raadsvergadering die onderneming gekry van die burgemeester en haar burgemeesterskomiteelid vir vervoer, Brett Herron, dat hierdie situasie nou ernstige en dringend aandag geniet.
“Die antwoord was dat daar eindelik ‘n ooreenkoms bereik is tussen Sanral en die Provinsie, en dat daar daadwerklik beplan word om die gruisput te bou.
“Dit is egter tragies dat dit drie noodlottige ongelukke geneem het om die owerhede tot hierdie insig te laat kom. En nou is tyd steeds van belang aangesien elke dag se gesloer nader aan ‘n volgende tragedie is,” sê mnr. Fourie.
Mnr. Fourie het gesê hy sal nie rus voor die probleem opgelos is nie, en die owerhede is bewus van sy erns in die verband. Hy het ook sy meegevoel uitgespreek met die Cillié-gesin.
Kontaknommer: 083 441 9262